Boere in die Kalahari in die Noord-Kaap het twee weke gelede meer as 2600 stuks vee in erge veldbrande verloor.
Volgens ‘n opname deur Agri Noord-Kaap het 52 720 ha afgebrand. Altesaam 2554 skape het in die slag gebly, en 68 beeste is tydens die brande dood.
Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Agri Noord-Kaap, sê ses brande het tydens die laaste naweek van September 2011 in die distrik voorgekom. “Al die brande het begin ná weerlig die veld raakgeslaan het. Die vorige reëns was mildelik, so die veld was dig en die brande het vinnig versprei. Dit het toe nog nie gereën nie, so dit was droog en die brande kon nie maklik beheer word nie.”
Ramphulp
Volgens Van Rensburg is die opname onderneem om te sien of om ramphulp aansoek gedoen kan word. Sodra die opname ten volle afgehandel is, sal Agri Noord-Kaap ‘n besluit kan neem.
Van die boere is hard geslaan. Op die plaas Askam is 15 400 ha afgebrand en 232 skape het in die slag gebly. Op die plaas Amperklaar naby Boshof het 600 skape gevrek, en 5000 ha het afgebrand. Op die plaas Altemit het 491 skape doodgebrand en 6000 ha veld is swart gebrand.
Nóg ‘n boerdery wat groot skade aangeteken het, is Rooistraat, waar 7470 ha afgebrand het en 233 skape in die slag gebly het. Hoewel brande jaarliks in die omgewing voorkom, is die distrik lank laas deur sulke erge brande geraak.
11 Oktober 2011