Brande verminder in die Vrystaat en die einde van die brandtyd is in sig, meen die Department van Landbou, Bosbou en Visserye in die Vrystaat.
Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig, sê met die eerste reën wat Donderdag (29 September 2011) in die Bloemfontein-omgewing geval het, verwag hulle dat die einde van die brandtyd naby is.
Procter sê sedert 22 September het slegs 1 500 ha veld afgebrand. Die gemiddelde hoeveelheid veld wat vir die eerste 22 dae van September afgebrand het, was 6700 ha per dag.
Volgens Procter lyk dit of die rekord-aantal hektare – sowat 470 000 ha – wat verlede jaar afgebrand het, nie deur die jaar se statistieke oorskry sal word nie. Sedert Junie vanjaar het 420 brande in die provinsie voorgekom, met 303 715 ha wat afgebrand het.
Hoër gemiddeld
Die afgelope twee jaar se statistieke gaan egter wel die jaarlikse gemiddelde van brande in die provinsie opstoot, sê Procter.
“Vir 2011 staan ons reeds op 65 000 ha meer as die jaarlikse gemiddeld van 2001 tot 2009. Vir dié agt jaar het die gemiddelde op 235 000 ha per jaar te staan gekom,” vertel Procter.
Die aantal mense wat vanjaar in brande beseer is, staan tans op 12, terwyl drie mense weens brande omgekom het.
Intussen het sowat 6 000 ha vandeesweek in die distrik Koopmansfontein in die Noord-Kaap afgebrand. Mnr. Simon Russouw, woordvoerder vir Working-on-Fire, sê dit is die tweede groot brand wat dié seisoen in die gebied voorkom. Tydens die eerste brand het sowat 1 500 ha afgebrand.
Hy sê dit is die tweede jaar dat hulle groepe in die provinsie ontplooi het.
“En vanjaar was ons beslis besiger as verlede jaar. Ek dink wel dit kan toegeskryf word aan die feit dat ons twee spanne vir die provinsie beskikbaar gehad het. Verlede jaar het ons slegs een span gehad.”
29 September 2011