Verskeie boere in die Kalahari het groot skade gely nadat weerlig die afgelope naweek brande veroorsaak het, aldus Agri Noord-Kaap.
Mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder, sê duisende hektare het afgebrand en baie boere het groot veeverliese gely.
“Ek weet van een boer wat sowat 300 skape verloor het. En dis net een boer,” sê Van Rensburg. Hy sê boere in die distrikte Gordonia en Olifantshoek is doen tans opnames oor hulle skade. Met dié opnames sal bepaal kan word of die boere om ramphulp kan aansoek doen.
“Met die reëns wat die afgelope paar jaar elke keer op die regte tyd geval het, is die veld baie dig. Dié digte veld lei daartoe dat brande wat voorkom onsettend warm is. Boere moet dus nie net na die skade aan hul veld en vee kyk nie, maar ook na droppers en draad asook pypleidings wat moontlik beskadig is,” vertel Van Rensburg.
50 km lank
Mnr. Hoffie Joubert, verteenwoordiger van die organisasie, sê een brand het sowat 50 km ver gestrek. Die weerlig het glo op vyf of ses plekke die veld raakgeslaan, waarna brande ontstaan het. Dit is onseker hoeveel brande presies voorgekom het, maar van die boere skat nege of tien.
“Ons het baie lanklaas sulke groot brande in die Kalahari gehad, en die probleem was dat die weerlig net geblits het, maar geen reën het geval nie,” aldus Joubert.
Die skade behoort vroeg volgende week bekend te wees.
4 Oktober 2011