Hewige veldbrande wat vererger is deur sterk winde het Dinsdagaand (23 Augustus) chaos veroorsaak in dele van die Vrystaat, Noordwes en suidelike dele van Gauteng.
Dit was veral in Fochville wat baie swaar rook veroorsaak het dat paaie in die omgewing na Johannesburg, Potchefstroom, Ventersdorp en Parys gesluit is, wat dié dorp van die buitewêreld afgesny het.
Volgens Volksblad is twee vroue en ‘n kind in ‘n hospitaal in Parys opgeneem nadat hulle motor weens die omringende veldbrande op die pad aan die brand geslaan het.
Hulle was van Welkom na Parys onderweg toe die voorval buite Vredefort gebeur het. ‘n Boer en ‘n plaaswerker wat in dié omgewing brande bestry het, is ook glo beseer in die brande.
Volgens sers. Fikiswa Matoti van die SA Polisiediens het ‘n veldbrand Maandag naby Viljoenskroon uitgebreek en is dit deur die wind na Vredefort gedryf.
Mnr. Saayman Rossouw van Working on Fire sê tien brandweerspanne is gister na Bultfontein, Ficksburg en Clocolan gestuur. Intussen is daar ook brande naby Steynsrus, Lindley, Kroonstad, Edenville en Arlington.
24 Augustus 2011