Die verskynsel van oorstromings in die noorde van die land terwyl brande in die suide woed, is nie ongewoon nie.
Mnr. Johan van den Berg, ’n klimatoloog van Santam Landbou, sê Suid-Afrika is bekend vir sy uiterste verskille in klimaat.
“Die brande in die Kaap is nie ongewoon nie. Dit is nou die droë tyd in die Kaap, wat tot veldbrande aanleiding gee. En die oormaat reën in die sentrale en noordelike dele is ook nie totaal ongewoon nie, hoewel dit nie gewoonlik gebeur dat ’n tropiese sikloonstelsel die land tref nie,” verduidelik Van den Berg.
Volgens Van den Berg kom tropiese siklone so elke 10 tot 20 jaar in Suid-Afrika voor, terwyl oorstromings al om die ander jaar voorkom.
Menslike invloed
Wat betref die oorstromings en die siening dat dit toeneem, sê Van den Berg dit is ’n moontlikheid hoewel dit nie aan een spesifieke rede toegeskryf kan word nie. Hy meen dat dié weerstoestande aan natuurlike variasie in die weer of klimaatsverandering toegeskryf kan word.
“’n Baie sterk komponent is die mens se aksies – soos die oprig van nuwe geboue wat reënwater nie behoorlik filtreer nie,” verduidelik Van den Berg. “So, vloede raak dalk meer, maar dit is nie net as gevolg van klimaatsverandering nie, maar ook die mens se regstreekse optrede.”
Brande
Intussen woed twee veldbrande in die Swellendam-omgewing in die Wes-Kaap. Mnr. Reinard Geldenhuys, hoof van die brandweerdiens by die Overberg-distriksmunisipaliteit, sê ’n brand wat vir sowat agt dae lank gewoed het, is Donderdag (19 Januarie 2012) kort voor sononder geblus.
Geldenhuys sê weerlig het die veld Donderdagaand egter weer raakgeslaan, en Vrydag moes nog twee brande in die Langeberge geblus word. “Dis maar ’n situasie van wen een en wen nog een by.”
Geldenhuys sê verskeie brandbestrydingspanne is ontplooi om die brande onder beheer te bring. Hulle hoop dat die voorspelde reën van die naweek wel sal val. Nog geen landbougrond word deur die brande bedreig nie.
Vloede
Mnr. Braam van der Merwe, ’n boer van Hoedspruit in Limpopo, sê geen reën het sedert Donderdag in dié omgewing voorgekom nie. Die gemeenskap spartel tans net om opnames te doen van die skade ná vloedwaters infrastruktuur verwoes het.
“Ons grootste probleem is dat ’n enorme deel van die omgewing steeds nie krag het nie. Dit beteken dat as ons in die mango-boorde kon inkom, ons nie vrugte kan pluk om in koelkamers te hou vir vars markte en uitvoer nie,” aldus Van der Merwe.
Wildboere in die omgewing het ook groot las van beskadigde wildheinings, wat ook elektrisiteit nodig het om diere binne plaasgrense te hou. “Baie boere se diere kan tans vryelik rondbeweeg, wat beteken hulle bates kan letterlik wegloop.”
Kyk hier na foto's van die vloed wat die Kruger-wildtuin getref het.
20 Januarie 2012