
Brandbestryders in die Oos-Vrystaat probeer om die hulp van helikopters in te span om die twee brande wat sedert Donderdag, 4 Spetember, in die bergagtige gebied by Golden Gate woed, onder beheer te bring.
Mnr. Thinus Steenkamp, van die sambreel-vereniging vir brandverenigings in die Vrystaat, sê onderhandelings is aan die gang om ’n lugmag-helikopter te bekom, aangesien die gebied by Clarens en Golden Gate slegs te voet bereikbaar is.
Volgens Steenkamp het maklik 15 000ha tot 20 000 ha weiveld in die jongste brand in die slag gebly. Hy is vol moed dat die brandbestrydingspanne van Bethlehem en plaaslike spanne binnekort daarin sal slaag om die twee brande onder beheer te kry.
Mnr. Malcolm Procter, ’n adjunk-direkteur van die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê die meeste brandskade is tot dusver in die Oos-Vrystaat naby dorpe soos Bethlehem, Harrismith en Warden, waar sowat 200 000 ha weiveld al sedert die begin van die brandseisoen in Augustus vanjaar deur weghol-veldbrande verwoes is.