Nog drie veldbrande het sedert Woensdagmiddag (8 September) in die Vrystaat voorgekom, terwyl brande in die Daniëlskuil-gebied in die Noord-Kaap woed.
Mnr. Dirk Viljoen, voorsitter van die Bethlehem Landbouvereniging, sê ‘n brand het vroeg Donderdagoggend tussen Clarens en die Golden Gate-natuurreservaat opgevlam.
“Ons dink dié brand het sedert die naweek gesmeul, want mens kon sien hy het oor die pad gespring, maar dit het nie ernstig gebrand nie. Ons is almal nou oppad soontoe. Dié brand mag nie verder kom nie. Dis ‘n taamlike ent se klim die berg op, maar ons moet hom stop,” vertel Viljoen.
Nog twee brande in die Vrystaat
Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die provinsiale departement van landbou, bosbou en visserye, sê nog twee brande het Woensdagmiddag en –aand in dié provinsie voorgekom.
“ ’n Nuwe brand het in die Ficksburg-distrik uitgebreek en nog sowat 300 ha het afgebrand. Die brand is gelukkig intussen geblus,” vertel Procter. Hy sê ‘n brand het ook naby Wesselsbron uitgebreek, maar dit is geblus voor groot skade aangerig is.
Koopmansfontein in vlamme gehul
Intussen sê mnr. Johan van Rensburg, hoofbestuurder van Karoo Oranje Landbou, sowat 18 000 ha in die Koopmansfontein- en Daniëlskuil-distrik het reeds in die slag gebly. Hy sê ‘n brand het Dinsdag op ‘n boer in die omgewing se plaas ontstaan, en die gemeenskap probeer al drie dae lank om die brand te bestry.
“Die brand wat teen Dinsdagaand amper onder beheer, maar sterk winde het Woensdag voorgekom wat dit verder gedryf het. Ons is nog nie seker of en hoeveel vee moontlik doodgebrand het nie.”
Volgens Van Rensburg het ‘n groep boere van Kuruman Donderdagoggend by die brandbestrydingspan aangesluit.
“Ons het wel al boereverenigings in die Vaalharts-, Douglas- en Hopetown-distrik geskakel en gevra vir hulp met voer. Baie van die boere se lusern was op die lande en met die seisoen wat voorlê is voer ‘n groot kopseer,” vertel Van Rensburg.
9 September 2010