
Sagte, deurdringende reën wat oor groot dele van die sentrale binneland voorgekom het, het die tradisionele brandseisoen in die Vrystaat na verwagting afgesluit.
Mnr. Malcolm Procter, ’n adjunk-direkteur by die Vrystaatse departement van landbou, sê die toestande is nou gunstiger vir boere wat hulle veld vir vroeë weiding wil afbrand. Hy het egter gewaarsku dat die nodige veiligheidsmaatreëls en windtoestande steeds in ag geneem moet word.
In die mees onlangse brande het sowat 8 000 ha in die slag gebly nadat weerlig vier veldbrande in die omgewing van Reddersburg veroorsaak het.
Mnr. Thinus Steenkamp, voorsitter van die Vrystaatse sambreel-organisasie vir brandverenigings, sê ’n vyfde brand is ook in die ooreenstemmende tyd by Marquard deur weerlig veroorsaak.
Volgens Procter was die afgelopeveldbrandtydperk die ergste met verwysing na lewensverlies en skade aan infrastruktuur. Agt mense is dood en 28 beseer, terwyl sowat 400 000 ha, 12 huise, vyf pakhuise en ten minste een voertuig in die slag gebly het.
“Die realiteit is dat ons gemiddelde hoeveel hektare wat brand stelselmatig styg.”
Volgens Procter word ’n stygende neiging in die getal brandhektaar jaarliks ondervind. Dit kan onder meer toegeskryf word aan:
* Aardverwarming. Baie grondeienaars slaan nie ag daarop dat seisoene verskuif het en die brandseisoen later as gewoonlik begin nie.
* Die tradisionele Augustus-winde kom later as gewoonlik voor, wat ’n groter wisseling in temperatuur en sterker winde weens koue en hitte-golwe veroorsaak.
* Meer brande word aangemeld.