
Statistiek toon dat net 17% van gesteelde vee gewoonlik gebrandmerk is en dit bewys dat veediewe op die uitkyk is vir vee sonder brandmerke, sê kol. Johan Scott, hoof van die veediefstaleenheid in Gauteng.
Hy het by die jaarlikse Landboukorrels-boeredag buite Cullinan gepleit dat boere nie moet versuim om hulle diere te brandmerk nie. Kleinvee moet getatoëer en grootvee moet ’n geregistreerde brandmerk hê. “Die landbou is ’n besigheid en enige besigheid het basiese reëls wat nagekom moet word. Seker die mees basiese reël by veeboerdery is dat jou diere gemerk moet wees.”
Hy sê daar is geen kans om ’n veediefstalsaak suksesvol in die hof te betwis as eienaarskap nie deur ’n geregistreerde merk bewys kan word nie. Scott het veeboere ook daarop gewys dat hulle hul brandmerk-registrasiedokumente altyd by hulle moet hê indien hulle beeste vervoer. “Dit is die maklikste manier om jou wettige eienaarskap te bewys, veral as jy diere na ’n veiling toe neem.”
Die beste manier om veediefstal te bekamp is as daar ’n vennootskap tussen boere en die Polisie is. “Elke boer moet weet wie die veediefstalspeurder in sy gebied is, sy telefoonnommer moet op jou foon wees en julle moet mekaar op voorname ken. In die ou dae het die polisie en boere saam gebraai en baie keer ’n saak langs die braaivleisvuur opgelos,” sê hy. “Die ideaal is om pro-aktief op te tree en sommer saam patrollie te ry.”
Scott waarsku ook boere om nie sonder meer buitelanders in diens te neem nie – veral nie as hulle sonder identiteitsdokumente is of moontlike onwettige immigrante is nie. “Hulle mag dalk harde werkers wees, maar as hy Desember huistoe gaan vat hy dalk jou goed saam met hom.”