
Optrede ten opsigte van brandmerke vir vee gaan in Gauteng verskerp word.
Alle lede van die polisie wat in landelike beveiligingsafdelings werk, gaan opleiding oor brandmerke ontvang. Dít volg nadat vasgestel is dat slegs 13,5% van alle vee in die provinsie wat as gesteel aangemeld word, gebrandmerk is.
Lt.kol. Johann Scott, koördineerder van veediefstal in Gauteng, het dié statistieke op ’n vergadering van die Veediefstalforum en Gautengse Rooivleisprodusente-organisasie (GRPO) bekendgemaak.
Mnr. Willie Clack, voorsitter van die GRPO, sê: “Die forum was dit eens dat die statistieke skokkend is.” Hy is daarvan oortuig dat veediewe hulle eerder sal toespits op vee wat nie gebrandmerk is nie, as vee wat wel gebrandmerk is.
“Die GRPO doen derhalwe ’n beroep op alle eienaars van vee in die provinsie om te verseker dat hulle aan die vereistes van die wetgewing oor brandmerke voldoen.”
Min of baie
Clack sê dit maak nie saak of ’n vee-eienaar een of duisend stuks vee besit nie. Die Wet op die Identifikasie van Diere (Wet 6 van 2002, artikel 7) bepaal uitdruklik dat die verpligting van ’n brandmerk op die eienaar van die vee geplaas word.
“Vee-eienaars moet ook besef dat as jy nie jou vee volgens wetgewing kan identifiseer ná ’n veediefstalklag nie, kan jy nie jou vee terugeis nie. Dit sal gevolglik verbeur verklaar word aan die staat.”
Die GRPO het op die vergadering die Polisie versoek om hom toe te spits op die nakoming van die wetgewing by veral veilings. Clack sê: “Dit is ook pertinent gemeld dat nie net die eienaars van vee beboet moet word as vee nie ooreenkomstig wetgewing geïdentifiseer is nie, maar alle betrokke partye.”
’n Voorstel deur Scott dat veediefstaleenhede ook by vrouelandbou-verenigings betrokke moet raak om vroue oor die misdaad in te lig, is deur die forum en die GRPO verwelkom.
Klik hier vir 'n gids vir die identifikasie van vee.