Die brandskade in Noordwes kring uit met sowat 3 500 stuks vee en wild wat reeds dood is, sê Agri Noordwes.
Mnr. Cor van Vuuren, voorsitter van die organisasie, sê baie boere is tans bitter moedeloos.
“Ons is nou eers by 1 September en die hoeveelheid hektare wat reeds afgebrand het, staan reeds op 287 000. Dis ’n ramp, dis ’n groot ramp vir ons vanjaar,” verduidelik Van Vuuren.
Sterk winde
Volgens Van Vuuren is sterk winde een van die grootste probleme. Hy sê naby Ventersdorp en Vryburg het brande voorgekom omdat sterk winde kragdrade teen mekaar vasgewaai het. Dit het kortsluitings veroorsaak wat uiteindelik tot veldbrande gelei het.
Verskeie boere, wat lede van die TLU SA is, veg tans teen brande wat in die distrik Swartruggens voorkom. Brande kom glo ook in die distrik Lichtenburg en Coligny voor. Die brande woed nog, derhalwe is die skade nog nie bekend nie.
Brandstigting
Van Vuuren sê hulle verwag dat verskeie brande ook aan brandstigting toegeskryf kan word.
Intussen woed ’n brand tans in die distrik Reddersburg in die Vrystaat. Mnr. Malcolm Procter, adjunkdirekteur van bos- en veldbrandtoesig by die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye, sê dié brand het ontstaan weens die nalatigheid van die plaaslike munisipaliteit.
“Ons het verskeie radio-waarskuwings uitgestuur, maar hulle het nie gehoor daaraan gegee nie.”
Tot dusver het sowat 124 000 ha in dié provinsie weens brande in die slag gebly.
1 September 2011