
Skade aangemeld weens die wydverspreide brande wat in Januarie en Februarie in verskeie dele van die Wes-Kaap geword het, beloop R190 miljoen.
’n Tussentydse verslag rakende die brandskade in die landbousektor dui aan dat nagenoeg 94 700 hektaar plaasgrond deurgeloop het.
Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse LUR vir ekonomiese geleenthede, het gesê data wys dat weiveld, fynbos, oeste, natuurlike plantegroei, landbou-infrastruktuur, soos heinings en pyplyne, verwoes is.
Sy departement het boere gevra om vraelyste in te vul om die omvang van die skade te bepaal. Indien die finale opname aandui dat boere verdere geldelike steun benodig, sal die Wes-Kaapse Departement van landbou ’n aansoek vir befondsing by die Nasionale Tesourie indien.
In die Swartberg/Meiringspoort/De Rust-gebied is sowat 35 000 hektaar beskadig, in Witzenberg/Tulbagh 1 500 hektaar, Paarl/Hasequa 2 200 hektaar, Stilbaai/Riversdal 20 000 hektaar, Haarlem 8 000 hektaar, Plettenbergbaai 20 000 hektaar, Ruitersbos/Gondwana 10 000 hektaar en die Cederberg/Wupperthal-gebied 26 000 hektaar.
Plase in veral die Drakensteinstreek het uitermatige skade aangemeld.