
Mnr. Johan Neetling, plaasbestuurder by Spring Growth Estate naby Lothair, sê in ’n brand wat Vrydagaand (8 Junie 2012) voorgekom het, het hulle ’n klomp teerpale en sowat 100 bale voer verloor.
“Die skade met die teerpale skat ons op R300 000 tot R400 000, terwyl die bale elk sowat R250 werd was. So, ons skade is meer as ’n halfmiljoen rand,” vertel Neetling. Hy werk as bestuurder vir senior advokaat C.E. Puckrin op dié plaas.
Brandstigting
Neetling sê hulle het ’n saak van brandstigting by die Polisie aangemeld, want die plaas langsaan is op dieselfde aand ses keer aan die brand gesteek. Hy sê ’n verdagte is aan die Polisie uitgewys, maar hulle weet nie of hy vervolg gaan word nie, want hy is vrygelaat ná die man aan die Polisie gesê het hy is onskuldig.
Mnr. Hennie Laas, hoof uitvoerende beampte van Mpumalanga Landbou, sê boere het vier gevalle van brandstigting in die distrik Carolina by hulle aangemeld. “In ál die gevalle was die brand gelukkig klein, want die boere kon dit vinnig keer.”
Laas sê hulle wil boere in die provinsie waarsku om versigtig en op hul hoede te wees, want dit wil voorkom asof ’n veldtog vir brandstigting in die provinsie voorkom.