Twee sake van brandstigting is by die Fouriesburg-polisiestasie aanhangig gemaak nadat brande sedert verlede naweek groot skade in dié omgewing aangerig het, sê die Bethlehemse Landbouvereniging.
Mnr. Dirk Viljoen, voorsitter, sê hy vermoed die brande is gestig, aangesien die eerste brand sowat 4km buite die dorp reg langs die pad ontstaan het.
“Die eerste brand het Saterdagmiddag ontstaan, en ons het gesukkel om dit onder beheer te kry. Die brand is die berge in, en het groot skade veroorsaak. Die tweede brand begin toe Sondagoggend vroeg op ‘n koppie nie ver van waar die eerste brand ontstaan het nie,” vertel Viljoen.
Volgens die Vrystaatse departement van landbou, bosbou en visserye se statistiek het 65 000 ha in die omgewing afgebrand.
Nog groot skade
Volgens Viljoen het ‘n verdere 4500 ha in die gebied tussen Clarens en Golden Gate in die slag gebly. Hy sê hulle vermoed dié brand het weens nalatigheid ontstaan. “ ’n Groot deel van die Qwa-Qwa Nasionale Park het ook afgebrand,” vertel hy.
“Die boere in die omgewing het groot skade. Baie weiding en bale is daarmee heen, en daar is baie skade aan die natuurlewe. Ons het nog nie tyding van enige diereverlies ontvang nie,” sê Viljoen.
Groot dank aan Working on Fire
Viljoen sê hy is baie dankbaar vir die “ongelooflike” hulp wat hulle van die lede van Working on Fire kry. Twee van dié organisasie se helikopters het die brand veral in die berge help bestry, en drie van hulle spanne, een van Harrismith, een van Bethlehem en een van Frankfort, het die boere te hulp gesnel.
“Op ‘n stadium het 80 van hulle werknemers op die grond help brand bestry. Ons is baie dankbaar.”
Die Polisie het bevestig dat die sake geopen is en ondersoek word.
10 September 2010