
Maree sê volgens die Sentrale Energiefonds se syfers op 15 Julie was daar ’n oorverhaling op petrol van tussen R1,16/liter en R1,23/liter, asook gemiddeld 98c/liter op diesel. As die staat se 75c/liter-verligting op die brandstofheffing op 2 Augustus verval, kan die daling in pryse minder wees.
Volgens hom is die noemenswaardige daling in internasionale pryse van brandstofprodukte, wat aan die Brent-ruolieprys gekoppel is, die rede waarom ’n prysdaling volgende maand verwag kan word. “Dit is belangrik om in ag te neem dat die olieprys wisselvallig is. Die scenario kan verander en vir die res van die maand negatief wees.”
Hy sê die rand-dollar-wisselkoers het ’n demper op die herstel van brandstofpryse geplaas. Die swakker rand dra volgens hom sowat R1/liter tot die oorverhaling by.
Maree sê as die blaaskans by die pompe realiseer, of brandstofpryse selfs net dieselfde bly, sal dit goeie nuus vir die landbousektor en ekonomie as geheel wees, veral wat voedselpryse en inflasie betref.
“Indien die situasie ongunstig is en ons nog ’n styging in brandstofpryse het, kan dit belemmerend vir produsente en verbruikers wees. Produsente, reeds onder druk weens aanhoudende stygings in insetpryse en die kosteknyptang, kan oor die afgrond gedruk word. Maar ons hou duim vas vir ’n meer gunstige scenario.”
Oor die sluiting van Natref, ’n aanleg by Sasolburg in die Vrystaat wat 108 000 vate olie per dag na brandstof verwerk, sê Maree dat enige verlies aan raffineringskapasiteit ’n verlies vir die land sal wees aangesien daar dan op ingevoerde produkte staatgemaak moet word. Dit sal met ’n koste gepaardgaan.
“Ek voorsien nie dat dit ’n impak op brandstofpryse sal hê nie, aangesien brandstofpryse nie deur plaaslike produksie, maar eerder internasionale en ander faktore bepaal word nie. Dit kan egter ’n risiko aan die voorsieningskant wees as die sluiting lank duur en daar ’n skielik toename in vraag is. Op hierdie stadium blyk daar geen rede tot kommer te wees nie.”