Die prys van brandstof kan volgende maand weer styg; diesel met 8c per liter en petrol met 27c per liter, sê Econometrix.
Me. Laura Campbell, ekonomiese ontleder, sê die grootste rede vir die verwagte stygings is die swak vertoning van die rand teenoor ander geldeenhede tot dusver vandeesmaand.
Sy sê die rand is tydens die eerste twee weke van April aan verskeie risikofaktore op die internasionale front blootgestel, en dít het gelei tot die verswakking van die rand-dollar-wisselkoers.
Die rand het tot dusver vanjaar op 11 April die swakste gevaar teen R7,9989 teenoor die dollar. Die sterkste wisselkoers is op 2 April aangeteken, op R7,6504 teenoor die dollar.
Impak
Mnr. Dawie Maree, ekonoom by Agri SA, sê nóg ’n prysstyging vir brandstof is slegte nuus vir die landbou, veral met betaling van die e-tolgelde wat na verwating op 30 April in Gauteng in werking gaan tree.
Die organisasie se nuutste berekeninge vir die betaling van e-tolgelde dui aan dat koste vir geregistreerde e-tolgebruikers verlaag het.
Maree sê hulle het bereken dat as ál die boere wat die vier gewildste groente- en/of vrugtesoorte na varsproduktemarkte vervoer, geregistreerde e-tolrekeninge kry, sal dié bedrywe jaarliks sowat R3,2 miljoen aan tolgelde bestee. Dié vier vars produkte is tamaties, uie, piesangs en aartappels. Die berekening is vir ’n swaarvoertuig gedoen.
Sou nie een van dié bogenoemde padgebruikers vir e-tolrekeninge registreer nie, sal dit die bedryf R18,6 miljoen per jaar kos.
Die brandstofpryse vir volgende maand word volgende week aangekondig en sal van 2 Mei af in werking tree.
17 April 2012