
Mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou, sê data vir die eerste 10 dae van die maand dui op ’n oorverhaling op alle brandstofprodukte. Die oorverhaling is as volg:
95 oktaan-petrol R2,68/liter;
93 oktaan-petrol R2,54/liter;
Diesel met 0,05% swael R2,41/liter;
Diesel met 0,005% swael R2,36/liter.
“As hierdie neiging voortduur, beloof dit goeie nuus vir verbruikers en produsente. Ons moet egter in gedagte hou dat baie nog kan gebeur met die olieprys en die rand-dollar-wisselkoers. Op die oomblik is die vooruitsig vir albei egter goed.”
Hy sê die olieprys is aansienlik laer as die $120/vat wat dit in Junie bereik het. Vraag in die Noordelike Halfrond kan die prys begin styg namate die seisoene verander, maar dit is vir hom tans nie ’n groot bron van kommer nie. Die verstewiging van die rand danksy Amerika se onveranderde inflasiekoers is ook volgens hom gunstig.
“Dit is nog te vroeg om verseker te sê, maar vroeë aanduidings is dat ons beter nuus in September vergeleke met vorige maande kan verwag.”