
“Die kans is skraal dat brandstofpryse binnekort tot onder R20 per liter gaan daal,” sê mnr. Dawie Maree, hoof van inligting en bemarking by FNB Landbou. “Soos wat sake vandag (19 Mei) staan ten opsigte van die onderverhaling, kan die prys van ’n liter petrol met R2,16 styg in Junie en ’n liter diesel met R1,50.”
Maree sê mits die regering die tydelike verligting van R1,50 van die algemene brandstofheffing, wat tans net tot 31 Mei geld, in Junie gaan voortsit, sal die prys van diesel moontlik nie styg nie, terwyl die prys van ’n liter petrol dan met 50c kan styg.
“Indien marktoestande voortduur soos wat tans die geval is, behoort die situasie te stabiliseer vir die res van die maand.”
Die grootste bydraer tot die styging in brandstofpryse is tans die rand-dollarwisselkoers.
Langertermynvooruitsigte
Maree sê met Europa wat in sy somerseisoen inbeweeg en China se groeisyfers wat nie goed lyk nie, kan die druk op die olieprys op dieselfde vlak bly. “Tensy daar ’n verandering in die mark is of pres. Wladimir Poetin van Rusland besluit om Finland in te val weens die Finne se teenstand teen Rusland se oorlog met Oekraïne, kan toestande voortduur.”
Maree verwag dat die wisselkoers kan stabiliseer in ’n band van R15,90 en R16,20 teenoor die dollar. Dit kan lei tot matige stygings in brandstofpryse in Junie, Julie en Augustus.
“Ek dink nie ons sal gou onder R20 per liter kom nie, tensy die situasie in Oekraïne verbeter. Ons moet ons moontlik reg maak vir pryse van tussen R20 en R25 vir die res van die jaar.”
Dr. Werner Rossouw, direkteur van Silostrat, sê die wisselkoers is tans die grootste dryfveer agter hoë brandstofpryse, en die hoë oliepryse is tans “die olie op die vuur”.
“Op 1 Januarie vanjaar was die oliepryse in Suid-Afrika op $76/vat, nou staan dit op $114/vat. Rusland produseer tans 10,7 miljoen vate per dag. Die prys gaan hoog bly so lank as wat die oorlog woed.”
Rossouw sê weens hoë oliepryse verdien Rusland tans dubbel soveel uit olieverkope as voorheen, maar sy olieverkope het met 30% gedaal. “Ons moet ook in gedagte hou dat die situasie baie onseker is. Ons was nog nooit in so tipe oorlogsituasie nie. Ons het nooit gedink daar gaan so tipe oorlog wees nie, en hier sit ons.”
Onsekerheid oor brandstofpryse gaan in die komende maande voortduur.