
Volgens die nuutste, beskikbare inligting wil die voorkom asof die dieselprys volgende maand met tussen 8c en 10c per liter kan styg, terwyl petrol met tussen 5c en 15c per liter duurder sal wees.
Mnr. Dawie Roodt, senior ekonoom by die Efficient-groep, sê hy is verbaas oor dié wending. “Ek het self verlede week nog verwag dat die petrolprys gaan daal.”
Roodt sê die brandstofprys-verwagtinge is die afgelope maand baie wisselvallig weens die skommelings van die olieprys en die rand-dollar-wisselkoers. Die hoogste vlak wat die internasionale olieprys tot dusver dié maand aangeteken het, was sowat $103 per vat, met die laagste vlak wat rondom $96 was.
Die rand-dollar-wisselkoers se swakste vlak was R8,25 teenoor die dollar, terwyl die sterkste vlak R8,04 teenoor die dollar was.
Monetêre stimulasie
Roodt skryf die styging in die olieprys toe aan die verwagting van monetêre stimulasie omdat Amerika, Europa “en selfs China” se ekonomieë tans swak vaar. “Hoe slegter dit met die sterk lande gaan, hoe meer optimisties lyk die markte, want hoe groter is die kans vir bykomende monetêre stimulasie uit, byvoorbeeld, Amerika.”
Die verswakking van die rand is volgens Roodt ’n gevolg van internasionale, ekonomiese onsekerheid wat onder meer deur die situasie in Europa aangevuur word.
Die Departement van Energie maak Vrydag (27 Julie 2012) die brandstofpryse vir Augustus bekend.