Die duurder brandstof wat Woensdag, 7 Maart, inskop, gaan dié kommoditeit tot nuwe hoogtes opjaag, sê ‘n ekonoom.
Mnr. Dawie Maree, ‘n landbou-ekonoom verbonde aan Agri SA, sê dié stygings, asook die beplande tolpadtariewe in Gauteng en die brandstofheffing wat in April 2012 inskop hou “niks goeds in vir die verbuiker en inflasie nie.”
Die Departement van Energie het Vrydag aangekondig dat die petrolprys met 28c per liter styg, terwyl diesel tussen 9c en 10c per liter duurder sal wees. Die hoofrede vir dié stygings is die styging in die internasionale olieprys gedurende Februarie 2012. Die departement sê die rand/dollar-wisselkoers het die verhoging teengewerk, en die stygings met tot 36c per liter laat daal.
Maree sê die hoër pryse kan die landbou hard slaan met oestyd wat om die draai lê en die aflewering van gewasse en vee met vragmotors by markte, silo’s en slagplase. “Die stygings gaan op die ouend die verbruiker die hardste slaan, want die vervoerkoste komponent in voedselpryse gaan net toeneem.”
Volgens Maree styg die dieselrabat wat boere op wettige dieselgebruik kan terugeis in April 2012 van R1,42 per liter tot R1,58 per liter.
6 Maart 2012