Petrol kan sowat 23c per liter duurder wees in November, terwyl die prys van diesel met 10,5c kan styg, sê mnr. Tony Twine, ekonoom van die Econometrix-groep.
Ondanks vroeëre verwagtinge dat brandstofpryse vir die res van die jaar slegs met enkele sente sal wissel, sê Twine internasionale oliepryse het sterk gestyg die afgelope twee weke. “Na aanleiding van die veranderlikes vir die eerste twee weke van Oktober het die olieprys meer gestyg as wat die rand teen die dollar versterk het,” sê hy.
Volgens Twine het die prys van ru-olie in September ‘n gemiddeld van $78 per vat bereik. Pryse vir vandeesmaand tot dusver het gewissel tussen $81 en $85 per vat. Die rand/dollar-wisselkoers vir Oktober tot dusver het tussen R6,80 en R7 gewissel.
Toekomstige pryse
Twine sê dit is baie moeilik om te voorspel of brandstofpryse in komende maande gaan styg of daal. Hy sê dit het aanvanklik voorgekom of die styging vir November aan groter aanvraag vir die seisoen (die begin van die winter in Europa, Asië en Amerika) asook spekulasie toegeskryf kon word.
“Die afgelope naweek het die prys egter weer na onder $81 per vat gedaal, en Maandag het dit weer op $83 per vat gestaan, so ek skat spekulasie van sowat $2 speel ‘n rol,” verduidelik hy.
19 Oktober 2010