
Die vermindering in die algemene brandstofheffing tot R2,44/liter gedurende April en Maart bring tydelike verligting vir vuisvoos verbruikers, maar brandstofpryse bly op rekordvlakke, sê die Automobiel-Assosiasie luidens ’n verklaring.
Die prys van 93 oktaan-petrol neem môre met 28c/liter toe en 95 oktaan-petrol met 36c/liter. Die prys van diesel sal aansienlik toeneem. Die prys van diesel met 0,05% swael sal toeneem met R1,53/liter en die prys van diesel met 0,005% swael met R1,69/liter. Die prys van paraffien neem toe met R2,66/liter.
Volgens die AA is die grootste aandrywer van dié toenames die styging in die prys van ruolie. Die onlangse versterking van die rand teenoor die dollar het ’n effense demper op die finale prysverstellings vir April geplaas.
Gegewe die prysstygings sal 95 oktaan-petrol R21,96/liter in Gauteng kos en R21,24/liter aan die kus. Die maksimum prys vir diesel in Gauteng is R21,01/liter in Gauteng en R20,39/liter aan die kus.
Paraffien sal R15,84/liter in Gauteng kos en R15,02/liter aan die kus.
Volgens die AA is dié prysstyging slegte nuus vir veral die armste van die armes wat paraffien vir verhitting, kosvoorbereiding en beligting gebruik. “Hierdie is rekordpryse. Die regering se intervensie het die impak daarvan versag, maar dit het nie die pyn heeltemal verwyder nie.”
Die AA sê dit besef daar is geen kitsoplossing om stygende brandstofpryse teen te werk nie en dat die huidige hoë pryse nie volhoubaar vir verbruikers is nie aangesien hulle reeds ’n plan moet maak vir onder meer hoër kragkoste en voedselpryse.
“Die vermindering van die algemene brandstofheffing is noemenswaardig aangesien dit bewys die regering beskou stygende brandstofpryse as ’n ernstige kwessie. Die regering het ook aangedui dat verskeie ander voorstelle oorweeg word om stygende brandstofkoste in die toekoms te bestuur.
“Wat die regering ook al oorweeg, moet so vinnig moontlik toegepas word aangesien die styging van brandstofpryse waarskynlik op kort tot middeltermyn sal voortduur, veral aangesien die situasie in Oekraïne nog nie opgelos is nie, wat verdere druk op internasionale brandstofpryse, en gevolglik plaaslike pryse, plaas.
“Ons kommer is, soos altyd, die impak wat dit alles op verbruikers sal hê. Daarom moet ’n volhoubare langtermynoplossing so gou moontlik gevind word.”