
Sedert middernag sal dit sowat R1 875,20 kos om ’n bakkie se tenk vol te maak. Brandstof vir ’n trekker wat sowat 25 liter per uur gebruik, sal sowat R8 000 per dag kos en vir ’n 300 kW-stroper sal dit R16 000 per dag kos. Indien daar vir ’n maand lank ses dae per week gestroop word, sal dit dus sowat R352 000 kos om te stroop.
“Dit plaas boere steeds nie in ’n posisie dat hulle ongehinderd volhoubaar kan produseer nie, want die insetkoste van veral brandstof en kunsmis maak dit bykans onmoontlik om winsgewend te boer. Die vermindering in die heffing is nie ’n oplossing op lang termyn nie, maar wel ’n verligting en daarvoor is ons dankbaar,” sê Van Zyl.
Die departement van minerale hulpbronne en energie het gistermiddag aangekondig dat die tydelike verligting van R1,50 per liter op die brandstofheffing tot 5 Julie verleng sal word. Tot 2 Augustus sal die verligting tot 75c per liter verminder word.
Van Zyl sê ’n langtermynoplossing is noodsaaklik om voedselsekerheid te verseker. “Daar sal daadwerklik gesoek moet word na ’n oplossing om die hoë koste van brandstof aan te pak ten einde die skade aan die ekonomie te beperk. Suid-Afrika bloei ekonomies in vele opsigte en ons sit tans met verbruikers wat reeds nie toue bymekaar kan bring nie.
“Die hoë insetkoste vir boere veroorsaak reeds dat boere sekere kommoditeite baie moeilik winsgewend kan produseer. Die strategiese waarde van voedselsekerheid moet in ag geneem word. Dit is nie net brandstof wat die kosteknyptang veroorsaak nie, maar ’n samevoeging van verskeie aspekte wat die produksieproses nadelig beïnvloed en daarom moet elk van hierdie punte aangepak word.”
Mnr. Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA, sê die stygings in brandstofpryse plaas ’n demper op verbruikers se vermoë om kos te koop en plaas die landbousektor onder verdere finansiële druk. Agri SA het die regering dus versoek om die dieselrabat te verhoog sodat boere kan aanhou om kos te produseer.
“Ons groot vrees bly dat boere moontlik minder hektare kan beplant en bewerk omdat hulle nie geld het nie en dit nie vir hul besigheid sinvol sou wees om verder in die landbousektor te belê as dit nie winsgewend sal wees nie.”
Die oorlog
Hy sê die oorlog tussen Rusland en Oekraïne maak dit belangrik dat die regering voedselsekerheid moet prioritiseer, veral aangesien niemand kan voorspel wat die gevolge van die oorlog in die komende maande sal wees nie.
“Die moontlikheid bestaan dat die oorlog kan uitkring en verder uitgerek kan word met ongunstige implikasies vir die wêreldekonomie. Ons in Suid-Afrika moet sorg dat ons genoeg bekostigbare kos op die tafel kan sit sodat hongersnood en gevolglike maatskaplike onrus vermy kan word.”
Brandstofheffing ‘onnodig’
Mnr. Kevin Mileham, DA-LP, sê die feit dat die departement die verligting verleng het, is ’n aanduiding dat die brandstofheffing aanpasbaar, onnodig en misbruikbaar is. “Die ANC-regering gebruik brandstofpryse om Suid-Afrikaners te beroof. Die buitensporige, nuwe brandstofpryse is niks minder as misdadig nie. Die belastings en heffings, wat 33% van brandstofpryse uitmaak, belas Suid-Afrikaners tot in armoede. Die uitkringeffek daarvan sal wees dat voedsel van honderde duisende mense se tafels afgehaal word.”
Mileham sê die regering het met die aankondiging van die nuutste brandstofpryse die geleentheid gehad om die belasting en heffings op brandstof te beëindig, maar verkies om Suid-Afrikaners se las swaarder te maak.
Die DA sê die brandstofheffing van R3,93 per liter en die bydrae van R2,18 per liter tot die padongelukfonds moet afgeskaf word. Volgens die party moet brandstofpryse gedereguleer word sodat mededinging pryse laer kan dryf.
Ekonomiese ramp
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en woordvoerder, sê ’n ekonomiese ramp staar Suid-Afrika in die gesig – een wat nie vir die covid-19-pandemie terugstaan nie. “Indiensneming en die bestedingsvermoë van verbruikers kom onder ernstige druk. Weens dekades van ekonomiese wanbestuur is daar in die fiskus nie ruimte om hierdie probleem die hoof te bied sonder om staatskuld te verhoog nie. Dit sal op sigself inflasiedruk skep.
“Al wat oorbly, is dat die regering, nes die res van Suid-Afrika, sy gordel moet intrek. Die beste plek om te begin, is die groot aantal staatsdepartemente wat nie ’n sigbare verskil maak nie. Die VF Plus het telkens in die verlede daarop gewys dat die kabinet en gevolglik ook die aantal staatsdepartemente behoort te verminder.”