Hongersnood kan deur Brasilië uitgeroei word voor hy die volgende Wêreldbeker sokkertoernooi in 2014 aanbied, het mnr. José de Sá Pimentel, die Brasiliaanse ambassadeur, tydens die Departement van Landbou, Bosbou en Vissery en die Verenigde Nasies se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) se viering van Wêreldvoedselindaba gesê.
Met sy Zero Hongerte-strategie hoop dié Suid-Amerikaanse land dat dit teen 2015 in die Verenigde Nasies se Millenium Ontwikkelingsdoelwit om hongersnood uit te roei sal slaag, maar De Sá Pimentel sê dit kan selfs vroeër bereik word.
Dié strategie is op 49 regeringsprogramme geskoei wat almal daarop gemik is om hongersnood uit te roei, sê De Sá Pimentel. “Dit (Zero Hongerte strategie) is die eerste ding wat president Lula da Silva in 2004 van stapel gestuur het. Hy het ook verstaan dat dit meer as een ministerie se rol is om voedselsekerheid te bewerkstellig.”
Verskeie departemente wat onder meer verantwoordelik is vir onderwys, wetenskap, finansies en landbou is by dié strategie ingetrek. As een van die programme, koop die regering die produkte van Brasiliaanse familieplase op en versprei die kos dan weer in kospakkies aan arm Brasiliaanse stedelinge.
Van die kos word ook ingespan by die regering se skoolvoedingskema, waar alle kinders in publieke skole ook daagliks ‘n ete ontvang. “Dié strategie is besig om ons mense uit armoede op te hef, want mense kry nou meer gereeld kos en kos is van ‘n beter gehalte as vroeër.” De Sá Pimentel sê die FAO is só opgepluk met die sukses van hierdie model dat hulle dit as voorbeeld aan ander lande wil voorhou.
De Sá Pimentel het verwys na die samewerkingsooreenkoms wat Da Silva en president Jacob Zuma verlede jaar onderteken het en het die hoop uitgespreek dat die twee lande voorts kan saamwerk in ‘n wedersyds voordelige verhouding.
18 Oktober 2010