Die bestaande wette oor verblyfreg en die huur van arbeiders moet eerder uitgebrei word as om nuwe wette voor te stel, sê Agri SA. Luidens ’n verklaring sê die organisasie hoewel die konsepwetsontwerp vir grondbesitsekerheid goeie doelwitte het, die voorgestelde maatreëls die teenoorgestelde gevolge sal hê en baie ontwrigtend vir kommersiële landbouproduksie sal wees.
“Dit plaas ook onaanvaarbare druk op grondeienaars van wie verwag word om uit eie bronne dienste te lewer wat as ’n reël funksies is wat by die owerheid berus,” lui die verklaring.
Verhoogde konflik, verlaagde produksie
Die organisasie het in sy kommentaar oor die konsepwet, wat ook aan mnr. Gugile Nkwinti, Minister van Grondhervorming en Landelike Ontwikkeling gestuur is, duidelik gemaak. Daarvolgens wys hulle uit dat dié konsepwet in sy huidige vorm tot verhoogde konflik op plase sal lei, en uiters nadelige gevolge vir produksie en gevolglik voedselsekerheid sal inhou.
“Agri SA maak ook ’n saak uit dat verskeie aspekte van die konsepwetsontwerp waarskynlik ongrondwetlik is. Agri SA het onder meer ernstige probleme met die voorgestelde uitsettingsprosedure en dui aan, deur middel van ’n hipotetiese geval, dat ’n (wettige) uitsetting ten minste 30 maande gaan duur om afgehandel te word.
"Gedurende daardie tyd moet die grondeienaar steeds behuising en dienste aan so ’n bewoner voorsien en kan hy/sy voortgaan om allerlei regte op die plaas uit te oefen, wat selfs insluit om ’n eie boerdery te bedryf,” aldus die organisasie.
’n Voorstel
“Agri SA kom tot die gevolgtrekking dat dit beter sou wees om eenvoudig ’n aantal wysigings aan die bestaande wette (die Wet op die Uitbreiding van Sekerheid van Verblyfreg en die Huurarbeiderwet) aan te bring en dat daar nie werklik regverdiging bestaan vir drastiese ingryping op die bestaande regte van grondeienaars, wat in elk geval blyk onversoenbaar met die Grondwet te wees nie,” volgens die verklaring.
Agri SA se dokument van 47 bladsye wat op 16 Maart aan die staat as kommentaar oorhandig is, is op www.agrisa.co.za beskikbaar.
24 Maart 2011