
Brexit kan dalk uiteindelik voordele vir Suid-Afrikaanse landbou-uitvoer inhou.
Suid-Afrika en Brittanje se handelsministers het op 'n nuuskonferensie in Kempton Park gesê nadat Brittanje die Europese Unie (EU) verlaat het, kan daar nuwe geleenthede wees en kan 'n nuwe handelsooreenkoms beding word.
Intussen is die voorkeursaak om seker te maak handel word nie onderbreek wanneer Brexit na verwagting in April 2019 gebeur nie en dat al die voordele van die Ekonomiese Vennootskapsooreenkoms (EVO) tussen die EU en die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) behou word.
Voorbereiding
Lord Mark Price, Britse minister van handel en belegging, het gesê Brittanje berei hom voor vir die voortsetting van sy handelsbande ná Brexit en praat wêreldwyd met sy handelsvennote.
“Baie mense dink Brittanje verlaat die EU verlaat omdat hy meer proteksionisties en inwaarts gekeer raak, maar ons wil die boodskap uitstuur dat die teenoorgestelde waar is.
“Ons wil 'n globale Brittanje word, 'n kampvegter van vrye handel, en wil vrye handel gebruik om mense uit armoede te lig.” Brittanje wil volgens hom meer aktief en meer betrokke wees.
As voorbeeld van Brittanje se betrokkenheid in ander lande, het Price gesê die stigting van die Waitrose-supermarkgroep waarvan hy voorheen die besturende direkteur was, het 50 000 Suid-Afrikaanse plaaswerkers se welstand, opvoeding en vaardighede verbeter.
Price en Sadu-handelsministers het op 19 Julie ontmoet. Op die gesamentlik nuuskonferensie daarna, het die ministers benadruk hul gesprekke is “dialoog” en nie “onderhandelinge” nie, omdat Brittanje, terwyl hy nog deel is van die EU, nie op sy eie handelsooreenkomste mag onderhandel nie.
Bespreek vroegtydig
Dr. Rob Davies, Suid-Afrikaanse minister van handel en nywerheid, het gesê dit is baie belangrik om vroegtydig oor kwessies ooreen te kom. Die gesprek het gegaan oor hoe die EVO as’t ware “oorgerol” kan word in 'n soortgelyke ooreenkoms tussen die Sadu en Brittanje.
Vir die meeste Sadu-lande sal dit maklik kan gebeur, maar Suid-Afrika se situasie is ingewikkelder, omdat hy vir sekere produkte, veral landbouprodukte en produkte wat Suid-Afrika baie mededingend produseer, nie tariefvrye, kwotavrye toegang gekry het nie.
“Ons sal nou moet bepaal wat die kwota vir Brittanje is.” Davies het gesê 'n tegniese proses moet dus nou gevolg word.
Tydsduur
Volgens Price moet nog bepaal word vir hoe lank só 'n eerste ooreenkoms sal geld. Die plan is om dan ná Brexit te kyk hoe die inhoud van dié EVO-verwante ooreenkoms verander kan word om beter geleenthede vir beide lande te benut.
Brittanje gaan onder meer sy eie sanitêre en fitosanitêre maatreëls opstel. Price het gesê dit kan byvoorbeeld Suid-Afrika se uitvoer van sitrus na Brittanje raak.
Hy het ook gesê Brittanje produseer uitstekende vonkelwyn, maar nie sy eie wyn nie, en dat daar in die toekoms in 'n nuwe ooreenkoms dus ook na die nuwe geleenthede vir die uitvoer van Suid-Afrikaanse wyn na Brittanje gekyk kan word.