Dit kan net tot Suid-Afrika en die Suid-Afrikaanse landbou se voordeel wees om lid van die “klub” van Bric-lande (Brasilië, Rusland, Indië en China) te wees.
Dit is veral die geval omdat daar goeie vooruitsigte vir handel met daardie lande is, het mnr. Daniel Silke, ’n onafhanklike politieke ontleder van Kaapstad by Omnia se onlangse boeredag in Stellenbosch gesê.
Middelklas groei
Een van die belangrikste redes daarvoor is die “enorme” toename in die grootte van die middelklas in daardie lande, en ’n ooreenstemmende styging in die vraag na basiese verbruikers- én luukse goedere.
Benewens die feit dat die wêreldwye finansiële krisis verbruikersvraag in die Bric-lande min geknou het, en dit voordele vir handel met Suid-Afrika inhou, glo Silke dat Suid-Afrika ook baie by dié lande kan leer.
Een van die lesse wat Suid-Afrika kan leer, is hoe selfs een van die grootste aanhangers van kommunisme, soos China, munt slaan uit ’n markekonomie. “Brasilië en China het in landbou-reuse ontwikkel as gevolg van goeie beleid, omdat hulle landbounavorsing aanmoedig en nie belegging in die landbou ontspoor deur swak beleid nie.”
Waar is die groei?
Daar is sewe Afrika-lande (Ethiopië, Mosambiek, Tanzanië, die Kongo, Ghana, Zambië en Nigerië) wat tel onder die tien toplande wat die vinnigste groei. Die feit dat Suid-Afrika nie onder die tien is nie, moet ’n boodskap stuur aan politici hier om meer te doen om beleggers van buite te verwelkom.
Silke het ook gewaarsku dat werkers in die res van Afrika besig is om beter skoolopleiding te ontvang, en dat hulle mettertyd meer aantreklik vir voornemende werkgewers gaan wees.
Hy het verder gesê die Suid-Afrikaanse Regering moet meer moeite doen om boere te verstaan en besef dat hulle die mense is wat voedselsekerheid kan verseker, en omdat stygende voedselpryse ook ernstige maatskaplike implikasies inhou.
Beleggings
Die belangstelling wat daar in die landbou is, kom tot uiting in die “dramatiese toename” in beleggings in landbougrond deur instansies wat nie normaalweg in die landbou belê nie.
Hoewel daar in Suid-Afrika nie veel geleenthede is om produksie uit te brei op onbewerkte grond nie, en die res van Afrika die laaste gebied is waar daar nog groot uitbreidings in landbouproduksie kan plaasvind, sal Suid-Afrikaanse boere se vaardighede en kundigheid daar van groot waarde kan wees.
31 Augustus 2011