’n Tweede ooreenkoms oor voedselsekerheid is onlangs deur landbouministers van die vyf BRICS-lande onderteken.
Dié lande is Suid-Afrika, Brasilië, Rusland, Indië en China. Luidens ’n verklaring is die stap verlede week gedoen op ’n vergadering wat in China gehou is.
Me. Tina Joemat-Pettersson, die Minister van Landbou, Bosbou en Visserye, het die vergadering bygewoon waar die deelnemende lande moes aandui hoe hulle met die eerste onderneming vorder. Die eerste ooreenkoms, die Moscow-onderneming, is verlede jaar onderteken.
Doelwitte
Van die doelwitte van die tweede ooreenkoms sluit in om die internasionale gemeenskap te vra om alle nodige stappe te doen om hulp aan die Verenigde Nasies te verleen vir sy hulplenigingsprojekte. Dít is veral daarop toegespits om te keer dat die krisis in die Horing van Afrika uitkring en verdiep.
Nóg ’n onderneming is om Afrikalande te help om hul vermoë tot voedselproduksie uit te brei. Dié pogings sal spesifiek op kleinboere toegespits wees en om hulle by te staan met die ontwikkeling van infrastruktuur, die aankoop en gebruik van tegnologie en persoonlike opleiding.
Die ooreenkoms bepaal ook dat ’n digitale platvorm vir landbou-inligting geskep word, waar akkurate langtermyn-inligting vir voedselprodusente en aankopers beskikbaar is. So ’n stelsel sal buitegewone, spekulatiewe aktiwiteite, wat tot hoë voedselpryse sal lei, beperk.
Aksieplan 2012-2016
Op die vergadering is ook ooreengekom op ’n aksieplan vir die uitvoering van dié ooreenkoms. Dit heet Aksieplan 2012-2016.
Die plan sal op vyf stappe fokus, waarvan die eerste die ontwikkeling van ’n basiese uitruilskema vir landbou-inligting tussen die BRICS-lande is. Die koördinerende land sal China wees.
Die tweede stap sal die ontwikkeling van ’n algemene strategie wees waardeur toegang tot voedsel vir die mees blootgestelde en arm dele van die bevolkings verseker word.
Suid-Afrika is verantwoordelik vir die derde stap. Dit is om die slegte impak van klimaatsverandering op voedselsekerheid te beperk en om die sektor se aanpassing by die neiging te verseker.
31 Oktober 2011