Suid Afrika moet strategiese subsidies terugbring om te verseker dat die landbou sy volle potensiaal bereik.
Dit was die boodskap van prof. Mohammad Karaan, lid van die nasionale beplanningskommissie en hoof van die Fakulteit Landbouwetenskappe aan die Universiteit Stellenbosch, op die Nedbank-besigheidsete by die Bien Donné Agri Cape Week.
Karaan sê ryk lande het nog altyd hul landbou gesubsideer terwyl arm lande die landbou belas. “Alle Afrikalande belas die landbou en dit is waarskynlik hoekom hulle nie van gevestig raak nie.”
Hy het bygevoeg dat geen land nog ooit volhoubare, ekonomiese groei gehad het sonder ’n gesonde landbou- en vervaardigingsektor nie.
Verder word dié soort inmenging in ’n kapitalistiese ekonomie nie meer so sterk afgekeer soos in die verlede nie. Veral nie in die lig van Amerika se ingegryping in sy land se bankwese nie. “Om die waarheid te sê, die subsidiëring van die landbou kan gesien word as ’n regstelling van dié kapitalistiese stelsel,” het Karaan gesê.
Hy het daarop gewys dat die versterking van die landbou net tot Suid Afrika se voordeel sal wees. Dit sal help om verstedeliking te verminder; dit genereer buitelandse valuta; help om voedselsekerheid te versterk; en dit kan ’n groot rol in werkskepping speel veral as ontwikkelende boere toegang tot markte kan kry.
Die Wes-Kaapse minister van landbou, mnr. Gerrit van Rensburg, wat ook die geleentheid bygewoon het, het in reaksie aan Landbou.com gesê om subsidies terug te bring is ’n wonderlike idee, maar dat dit nie haalbaar is gegewe Suid-Afrika se politieke en ekonomiese situasie nie.
Hy het egter daarop gewys dat daar baie is wat die Regering kan doen om die nood vir subsidies te verlig. Die nasionale Departement van Landbou kan boere moreel ondersteun en daardie ondersteuning beter aan boere oordra. Dit sal help om geloof in die sektor terug te bring.
Die departement moet ook sy mandaat en funksies uitvoer soos wat dit veronderstel is om dit te doen. Sodoende sal bedrywe wat baie belangrik is vir werkskepping en die generering van buitelandse valuta, produkte kan uitvoer, het hy gesê.
Van Rensburg het gesê dit is belangrik om nuwe markte te ontwikkel as gevolg van die ekonomiese probleme wat in tradisioneel Europese markte ondervind word, maar hy het gewaarsku dat ou markte nie ten gunste van nuwe markte afgeskeep moet word nie.
23 April 2012