Die Britse drankmaatskappy, Halewood Internasionaal, onderhandel glo al vir 18 maande met KWV oor ‘n moontlike samesmelting.
Luidens ‘n berig op Fin24.com het mnr. Mike Veysie, besturende direkteur van Halewood in Suid-Afrika, gesê sou die twee maatskappye saamsmelt, hulle oor twee jaar ten volle by die Johannesburgse Effektebeurs genoteer kan wees.
Hy het bevestig dat die maatskappy vroeër vandeesmaand ‘n brief aan die KWV gestuur het om hulle in te lig van hul voorneme om die maatskappy te koop. Die brief is met behulp van Deloitte opgestel.
Volgens Veysie het sy maatskappy besluit om ‘n aanbod te maak omdat hulle gehoor het dat Pioneer beplan het om die maatskappy te koop. Hy sê hulle dink die sinergie tussen die maatskappye sal goed werk, aangesien Halewood se produkte vinnig vervaardig en verkoop word, terwyl die KWV se produkte oor ‘n langer termyn vervaardig word.
Geen kommentaar
Intussen word in Landbouweekblad van 4 Februarie berig dat die KWV se direksie geen kommentaar wil lewer oor die uitslag van sy vergadering waartydens Halewood Internasionaal se amptelike koopaanbod bespreek is nie.
Me. Hymli Krige, mediawoordvoerder van die KWV, het ná die vergadering aan die tydskrif gesê: “Die direksie het ongelukkig vanmiddag besluit om nie in hierdie stadium ’n verklaring uit te reik nie.”
Mnr. Danie de Wet, voormalige voorsitter van die KWV en voormalige aandeelhouer, het aan Landbouweekblad gesê daar word “soos die graf geswyg” oor wat in die direksievergadering bespreek is.
“Al wat ek weet, is dat Halewood ernstig is met sy aanbod. Die KWV sal sy aanbod moet ondersoek op dieselfde manier as wat Pioneer se aanbod bekyk is. Dit sal tyd duur.” Lees die berig op bl.65 vir meer inligting.
Bronne: Fin24.com, Landbouweekblad, 4 Februarie 2011.
31 Januarie 2011