Die plaaslike koring- en mielieprys kan volgende jaar tot 30% hoër wees as wat tans verwag word.
Dit is as Amerika in die derde en vierde kwartale te min reën kry en uiterste hitte ervaar. In ’n scenarioskets deur die Buro vir Landbou- en Voedselbeleid (BFAP) sal rekordpryse behaal word indien Suid-Afrika ook minder reën ontvang en die mielieprys na invoerpariteit ver skuif.
Die samestellers van die skets het vanuit die veronderstelling gewerk dat die gemiddelde wisselkoers R7,20 sou wees. Daar is ruimte gelaat dat dié koers kan wissel van R6,50 tot R7,50.
Die Safex-prys vir wit mielies sal volgens die BFAP waarskynlik R2 450 per ton wees, met ’n minimum van R2 040 en ’n maksimum van R3 780 per ton. Die waarskynlikste koringprys is ongeveer R3 700 per ton, met ’n minimum van R3 150 per ton en ’n maksimum prys van R4 600 per ton.
Invloed op mieliemeel- en broodpryse
Omdat Suid-Afrika ’n netto-invoerder van koring is, verhandel dié kommoditeit reeds teen invoerpariteit. Dié pryse sal ’n reuse-invloed op mieliemeel- en broodpryse hê. Vanjaar sal ’n witbrood gemiddeld R8,43 kos.
Volgens die BFAP se vooruitskouing kan ’n witbrood gemiddeld R8,77 kos (R8,26, minimum; R9,53 maksimum). In dien die skets ’n werklikheid word, sal ’n witbrood volgende jaar gemiddeld R9,60 kos (oftewel tussen R8,86 en R10,60).
’n Sakkie mieliemeel kos vanjaar gemiddeld R5,25. Die BFAP voorspel dat dit volgende jaar gemiddeld R5,51 (R5,12; R5,97) sal kos. Volgens die scenario kan ’n sakkie mieliemeel egter gemiddeld R6,17 (met ’n minimum van R5,74 en ’n maksimum van R7,49) kos.
29 Augustus 2011