
Ernstige kommer heers nadat verskeie gevalle van Brucellose die afgelope paar weke in die Oos-Kaap aangemeld en beeskuddes positief vir die siekte getoets is.
In die Nelson Mandelabaai-metro en Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit is 10 plase onder kwarantyn geplaas, twee plase in die Chris Hani-distrik en een in die Fort Beaufort/Amathole-distrik.
Dr. Lubabalo Mrwebi, hoofdirekteur veeartsenydienste in die Oos-Kaap, sê dit is ’n uiters gevaarlike siekte wat aan mense oorgedra kan word, en as hulle nie gou behandeling kry nie, dit die sentrale senuweestelsel kan aantas. Geen behandeling bestaan vir die siekte in beeste nie en diere wat positief getoets word, moet dadelik geslag word.
Permanenet draers
“Besmette koeie bly permanente draers van die siekte en dit word maklik van een na die volgende dier oorgedra. Boere wie se plase in kwarantyn is, mag ook nie hulle diere vervoer nie. Besmette diere kan egter onder toesig van ’n veearts na abattoirs geneem en geslag word.”
Mrwebi sê dit kan tot ses jaar neem om ’n kudde weer skoon te kry. Boere staar ernstige finansiële verliese in die gesig omdat hulle net die slagkoste van diere kry en geen vergoeding vir vervanging- of produksieverliese deur die staat betaal word nie.
Miskrame van vyf tot nege maande van dragtigheid
Brucellose is meestal ’n asimptomatiese siekte in jong en nie-dragtige verse, maar miskrame kan gedurende vyf tot nege maande van dragtigheid by koeie voorkom. Dit kan deur roofdiere en -voëls wat die nageboorte van besmette koeie vreet, van die een na ’n ander plaas oorgedra word.
Vroulike diere behoort tussen 10 weke en 10 maande ouderdom voorkomend teen die siekte ingeënt word.
* Lees ook: 12 dinge wat jy moet weet oor beesbrucellose