
Die barbaarse en grusame manier hoe mense op plase en kleinhoewes vermoor word, is sterk uitgelig toe die Parlement vir die eerste keer plaasmoorde en -aanvalle gedebatteer het.
Die VF Plus het die oor plaasmoorde debat in die Nasionale Vergadering aangevra weens die buitensporige hoë persentasie moorde op plase en die brutaliteit daarvan wat die indruk skep dat dit nie gewone misdaad is nie.
Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het gesê baie van die aanvalle is só buitengewoon wreed dat dit nie as gewone misdaad beskou kan word nie.
'Dit is onwaar'
Die eerste spreker van die ANC, mnr. Francois Beukman, het hiérdie siening as onwaar bestempel. Hy het geen bewyse bestaan dat die brutaliteit van die aanvalle op plase uniek is nie. Dit is ook nie ’n nuwe gebeurtenis in die misdaadlandskap van die land nie. Beukman is die voorsitter van die Parlement se portefeuljekomitee vir polisie.
Om sy siening te staaf het Groenewald verskeie voorvalle van brutale plaasaanvalle en –moorde in die Nasionale Vergadering geskets.
’n Ander belangrike punt wat Groenewald wou tuisbring, is dat die persepsie onwaar is dat net wit mense op plase vermoor word. “Dit is nie so nie. Navorsing wys dat sowat 40% van alle slagoffers van plaasaanvalle swart is.”
Altesaam 133 boere per 100 000 mense vermoor
Hy het gesê waar die wêreld se gemiddelde moordsyfer 7 per 100 000 van die bevolking is, is dit in Suid-Afrika 33 per 100 000. Wat polisielede aanbetref is die syfer 54, terwyl 133 boere per 100 000 van die bevolking vermoor word.
“Dit beteken dat dit byna drie keer gevaarliker is om te boer in Suid-Afrika as om ‘n polisieman of -vrou te wees.
“Van belang is ook die feit dat die landbousektor 6,9% van die land se BBP bydra, en werk aan sowat ‘n miljoen mense verskaf.”
Veralgemeen
Hy meen ook dat die veralgemening dat plaaswerkers wat sleg behandel word die rede vir die aanvalle is, onwaar is.
“Die polisie se navorsing wys dat minder as 2% van die aanvallers en slagoffers aan mekaar bekend was. Ook dat sowat 2% van die aanvalle polities gemotiveerd was,” het Groenewald gesê.
Syfers wat hy van die Suid-Afrikaanse Polisiediens gekry het, wys dat sedert 1991 altesame 2 393 moorde en 14 589 aanvalle op plase was.
Kommando-stelsel
Volgens hom het oud.pres. Thabo Mbeki met die ontbinding van die kommando-stelsel onderneem om iets in die plek daarvan te plaas. Sektor-polisiëring sou hierdie rol vervul. Dit is egter nie doeltreffend genoeg nie. Baie van die polisiekantore in landelike gebiede het nog nie eens daarmee begin nie.
Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, wat ook grusame voorvalle van plaasmoorde uitgelig het, het gesê gedurende die 2015/’16 geldjaar is 18 673 moorde aangeteken wat ’n gemiddeld van 51,2 moorde per dag is.
“Ek is ’n gebore plaasmeisie en weet hoe dit voel om by die plaashek in te ry en te wonder of daar dalk onwelkome gaste op my wag. Ek weet hoe dit voel om in die nag wakker te word as ek vreemde geluide hoor en om dan stil in die donker op te staan en versigtig deur die huis te beweeg om seker te maak dat alles buite nog reg is. Ek vrees elke dag dat iemand na aan my en waarvoor ek lief is, op ’n plaas vermoor kan word."
Redes vir plaasmoorde
Sy het gesê hoewel oor die rede vir plaasmoorde verskil mag word, moet daar saamgestem word dat die martelling van enige mens deur ’n ander onmenslik en barbaars is. “Vanjaar het ons reeds meer as 70 aanvalle gesien wat tot 20 moorde gevolg gehad het.”
Beukman het uitgelig dat ’n analise van die SA Polisiediens in 2016 aandui dat daar ’n groot skuif van aanvalle op kleinhoewes na meer geïsoleerde plase is. Volgens hom moet ’n veiligheidsplan vir elke plaas ontwikkel word en dat die polisie meer op landelike veiligheid moet fokus om die veiligheid van landsburgers in landelike gebiede te verseker.
Mnr. Nkosinathi Nhleko, Minister van Polisie, het gesê dat die Regering voortdurend insigvolle maniere gebruik om te verseker dat plaasmoorde afneem. Volgens hom moet plaasmoorde binne die groter konteks van die misdadigheid in die samelewing verstaan word.
“Ons is lief vir ons boere, maar ons liefde moet ontwikkel word in ’n universele liefde vir almal in die landelike gebiede, ongeag ras of geslag.”