
Die Oos-Afrika-buffelbul Buster, met ’n horingmaat van 44? duim (Roland Ward), van die jagoperateur JP Kleynhans van Humansdorp is aan mnr. Joggie Ackerman van Winburg verkoop. Die prys van die ander buffels het van R75 000 tot R95 000 gewissel.
Die ram Bolt met ’n horingmaat van 18?” van die bekende springboktelers Jules of the Karoo van Richmond is teen R380 000 aan mnr. G.F. du Toit van Wellington verkoop. Nóg ’n ram, Kerneels, met besonderse horings van 17¼ duim, is teen R310 000 opgeraap.
Van die uitskieterpryse van drie jaar gelede toe miljoene rand vir springbokke, kleurvariasie-blesbokke en ’n njalabul betaal is, was daar geen teken nie. ’n Stram plaaslike ekonomie, ’n klemverskuiwing in die vraag weg van eksotiese wild en persoonlike kopersvoorkeure was van die redes vir die gematigde pryse op die veiling.
Mnr. Ikey van Wyk, die aanbieder van die veiling in sy Matopi-boma in Hartsvallei, sê hy het die huidige beperkende faktore in ag geneem deurdat hy hom vanjaar in die samestelling hoofsaaklik op gewone vlaktewild van uitstekende gehalte toegespits het. Dit het onder meer springbokke, blesbokke, gemsbokke, waterbokke, lechwes en koedoes ingesluit.
Volgens mnr. Brandon Leer, afslaer, is die vraag na topteelmateriaal van gewone wildsoorte steeds goed. “Van die ooitjies met uitsonderlike horings is van die voorbeelde wat op die 3G-veiling flink verkoop het, ten spyte van ’n moeilike jaar wat die wildbedryf beleef het,” sê hy.
“Dit is deels toe te skryf aan die afgelope droogte, die ekonomie wat onder druk is en die oormaat bokke wat op veilings en uit die hand uit bemark is.”
Mnr. Julian Theron van Jules of the Karoo was tevrede met die goeie vraag na springbokke van gehalte. “Ons kan nie kla nie, aangesien ons baie navrae van private kopers ontvang,” sê hy.
Sy goedkoopste ramme is teen R32 000 verkoop. Die prys van springbokooie het van R8 000 tot R40 000 stuk gewissel.
“Wildkopers is terdeë bewus van meer eienskappe van die wild op veilings as net die horinglengte,” sê Theron se seun, Izak. “Die vorm van die horings en die horingbasis en die bok se voorkoms bepaal of kopers bereid is om uitskieterpryse vir topdiere te betaal. Die groep kopers by die 3G-veiling was aktiewe wildtelers wat baie meer kieskeurig is as op vorige veilings,” sê Izak.
Ongewone kleinwild wat betreklik goeie pryse behaal het, was wit volstruise (R38 000 stuk), suni’s (R11 000 stuk), vaal ribbokke (R6 500 tot R9 000 stuk), klipspringers (R7 500 tot R9 000 stuk), steenbokkies (R6 500 stuk) en rooi ribbokke (R2 600 stuk). Horing-damara’s is teen tot R3 500 stuk verkoop.