
Senatla, ’n buffelbul van die private wildreservaat Thaba Tholo naby Thabazimbi, is teen ’n nuwe Suid-Afrikaanse rekordprys van R18 miljoen op die reservaat se veiling verkoop.
Die koper van Mookgophong (Naboomspruit), wat anoniem wil bly, het ook vier ander buffels vir bykans R3 miljoen en swartwitpense vir sowat R6 miljoen gekoop.
Senatla is vyf-en-’n-half jaar oud en spog met ’n horingspan van 50 duim. Hy is deur afslaers bestempel as die “bul van die dekade” en die prys wat hy behaal het is die hoogste vir enige dier nóg in Suid-Afrika en bykans twee keer meer as die vorige rekord vir ’n buffelbul (R9,2 miljoen).
Omset van R91 miljoen
Die reuse-veiling se omset van meer as R91 miljoen was ook ’n rekord vir enige wildveiling in die land. Sowat 800 mense het die veiling bygewoon en 11 ander Suid-Afrikaanse rekords is ook opgestel vanweë die uitstaande diere wat aangebied is.
Ander nuwe rekords saam met hul vorige rekords, is vir ’n duiker R5 600 (voorheen R4 750), Kaapse elandkoeie R16 500 (R13 000), gemsbokkoeie R10 000 (R9 000), njalabul R33 000 (R26 000), rooibok-teelgroep R3 600 (R3 400), rooibokram R21 000 (R15 000), steenbok R8 000 (R6 000), Zambiese swartwitpenskoeie R925 000 (R825 000) en Matetsi-swartwitpenskoeie R360 000 (R340 000).
22 September 2011