
Die teelbul Inala het veilinggangers vandag, 16 September, op die agtste produksieveiling van die bekende Thaba Tholo-boerdery in Limpopo na die asems laat snak toe die bod op ’n allemintige R168 miljoen op hom toegeslaan is.
Die koper is mnr. Piet du Toit en vennote.
Volgens die veilingkatalogus is Inala tussen agt en nege jaar oud, met ’n horing-strek van 51,3 duim, ’n totale lengte van 103 duim tussen die twee horingpunte, en ’n horingbasis van 17 duim. Sy SCI-telling is ’n besonderse 136,5.
Die buffel Horison het vroeër vanjaar ’n kwart-aandeelprys van R44 miljoen op die veiling van mnr. Piet du Toit behaal. Hy is op R176 miljoen gewaardeer nadat mnr. Peter Bellingan van Naboomspruit die kwart-aandeel gekoop het.
Die Thaba Tholo-veiling, wat deur die veilinghuis Wildswinkel aangebied is, het vandeesweek oor twee dae gestrek, waarop verskeie spesies van die hand gesit is.
Die totale veilingomset was R225 090 500, het die Wildswinkel Vrydagmiddag getwiet.