
Boere in die Overberg is baie opgewonde oor die geboorte van die eerste buffelkalf in 200 jaar in dié omgewing.
Luidens ’n nuusverklaring is dié kalf gebore ná die Nuwejaars-vleiland se spesiale bestuursareagroep ’n trop buffels op die Agulhas-vlakte hervestig het. Volgens geskiedkundige opnames het buffels laas in die vroeë 1700’s op dié vlakte voorgekom.
Die groep sluit 25 boere in wat hul grond kollektief ten bate van omgewingsbewaring bestuur, terwyl hulle volhoubare landboupraktyke probeer bevorder. Lede het klousules in hul titelaktes teen hul eiendom laat teken registreer om seker te maak alle lede voldoen aan bepaalde omgewingsvereistes.
Die groep het ook aansoek gedoen om die status as beskermde omgewing.
Eerste stap
Mnr. Dirk Human, voorsitter van die groep, sê die geboorte van die buffelkalf is die eerste simboliese stap vir die groep in ’n poging om die horlosie in dié gebied terug te draai.
“Buiten die buffels het ons ook al ’n seekoei, wat 150 jaar laas hier gesien is, hervestig. Ons beweeg stadig nader daaraan om die natuurlike ekostelsel te herstel na hoe dit eeue gelede gelyk het.”
Volgens Human sal die buffelkalf binnekort ’n Khoisan-naam kry.
Die groep wil nie net fokus om die hervestiging van diere nie, maar hulle wil ook omsien na die sowat 100 soorte fynbos wat in die omgewing voorkom. Bedreigde renosterveld is een van die plantsoorte wat hulle wil beskerm.
Ooreenkoms
Die groep het onlangs, tydens die Agri Megaweek 2011, ’n samewerkingsooreenkoms met die Wes-Kaapse departement van landbou en landelike ontwikkeling onderteken.
Dié ooreenkoms bepaal dat die departement en die groep nou saamwerk om die volhoubare biodiversiteit en landelike ontwikkeling in die omgewing te bevorder.
Human sê dié ooreenkoms is vir hulle baie belangrik, want sonder die hulp van die staat sal die groep nie nie hulle doelwitte kan bereik nie.
3 Oktober 2011