
Die Stud Game Breeders se elfde wildsveiling by Zebula-landgoed op Rooikraal naby Bela-Bela het die afgelope naweek met ’n omset van R221,5 miljoen gewys dat daar nog baie vertroue in wild is ondanks die droogte en ’n taai ekonomiese en politiese klimaat in Suid-Afrika.
Daar is deur die bank hoë pryse vir wild aangebied met die buffelbul Lebombo van Nyumbu Game wat teen R18 miljoen deur ’n beleggingskonsortium gekoop is. Lebombo spog op net oor die vier jaar reeds met ’n horingbasis van 18 duim en het die 53”-buffel Tyson as pa en Yellow, met ’n horingwydte van net oor die 33” as ma.
Dieselfde konsortium het ook vir Dagbreek, die volbroer van die superbuffel, Horison, aangeskaf teen R9,3 miljoen. Tembani Wildlife se buffelbul, Kwando, het R10 miljoen gehaal. Buffelkoeie het tussen R1,3miljoen en R5,6 miljoen op die veiling gehaal.
Ander uitskieters was die 521/4”-Swartwitpensbul Mothomo van Dinaka wat R5 miljoen gehaal het en ’n Egoli-wildbebees van Dinaka-wildreservaat, Botse, met ’n horingwydte van 311/2”, wat teen R5,7 miljoen deur mnr. Colin Davey van Romaco Ranch opgeraap is.
Mnr. Lood Bester van Wildswinkel, wat vanjaar die Stud-groep se veiling vir die eerste keer aangebied het, sê hoewel daar uitsonderlike pryse vir sommige diere betaal is, is dit vir hom verblydend om te sien dat die totale omset van die veiling nie deur een spesifieke dier opgejaag is nie, maar dat die gemiddelde prys sterk was.
“Buffels het weereens bewys hulle is ’n standvastige belegging en hulle bly maar ’n gunsteling onder kopers. Aan die laaste twee veilings waarby Wildswinkel betrokke was is dit duidelik dat dieselfde onderliggende sentiment wat vir buffels geld, ook by Swartwitpense van krag is. Hulle het baie goeie pryse behaal.”
Bester skryf die bogemiddelde pryse wat die Stud-telers vir hul diere verdien het toe aan jare se teling en top genetika. “Ek dink die kopers is opgevoed en besef as hulle by hierdie telers koop, dan wen hulle jare in die teelproses en mense is bereid om ’n premie daarvoor te betaal.”