
Boere moet verseker dat alle buitelandse werknemers oor die nodige, wettige dokumentasie beskik sodat hulle hulself aan die regte kant van die wet bevind, sê mnr. Jannie Strydom, uitvoerende hoof van Agri Wes-Kaap.
Dié opmerking volg op ’n voorval verlede week op Robertson waartydens buitelandse seisoenwerkers van Lesotho mense van Zimbabwe daarvan beskuldig het dat hulle, volgens Netwerk24, hul werk op plase vat. Dit het gelei tot geweld waartydens verskeie mense beseer en informele woonstrukture aan die brand gesteek is.
Strydom sê dié situasie moet dringend deur die departement van arbeid en indiensneming en binnelandse sake getakel word.
“Die aanstelling van onwettige werkers kan nie goedgepraat word nie, maar daar kan nie van die landbou verwag word om onwettige werkers te polisieer nie. Dit is net nie prakties moontlik nie. Die drakoniese wetgewing dra ook nie by tot die oplossing van die probleem nie.”
Strydom sê die omvang van die probleem is veel groter as die aanstelling van onwettige werkers. Dit begin reeds wanneer onwettige buitelanders vrylik deur Suid-Afrika se grense beweeg en hulself in die land vestig. Dít skep volgens hom ’n maatskaplik-ekonomiese probleem.
“As ’n organisasie vra ons dat leiding gegee moet word aangaande die verifikasie van dokumentasie – praktiese oplossings wat landbouproduksie nie sal onderbreek nie. Die landbousektor vra die afgelope twee jaar vir leiding, en daar is steeds geen werkbare oplossing nie.”
Agri Wes-Kaap versoek weer dat alle belanghebbendes bymekaar moet kom om met oplossings vir dié enorme probleem vorendag te kom.