
’n Nuwe opsie vir boere wat hul landboubedrywighede wyer as die Suid-Afrikaanse landskap wil versprei, is deur die TLU SA aangevoer.
Die organisasie het vanjaar ’n reeks verskansingseminare in samewerking met Old Mutual en Agri All Africa aangebied om boere in te lig oor verskillende verskansingstrategieë.
Mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van die TLU SA, het tydens die seminaar op Devon, Gauteng, gesê sy organisasie is tans besig om moontlike geleenthede vir plaaslike boere in Bulgarye te ondersoek.
Geleentheid om uit te brei
“Op die oomblik bestaan werklike uitstekende geleenthede vir Suid-Afrikaanse boere om hul besighede in Oos-Europa uit te brei. Die TLU SA het reeds ’n goeie pad saam met die owerhede in Georgië gestap om moontlikhede vir uitbreiding daar te vestig.”
Van Zyl het gesê daar is uitstekende landbougeleenthede vir uitbreiding na dié land, terwyl Bulgarye as volgende moontlikheid oorweeg word. “Samesprekings word reeds op hoë vlak tussen die TLU SA en die Bulgaarse regering gevoer, met die oog daarop om plase vir aankope beskikbaar te stel. ’n Plan om plaasaankopers ook so spoedig moontlik dubbele burgerskap vir Bulgarye te gee, is ook in die vooruitsig gestel,” het Van Zyl gesê.
Grondpryse in Bulgarye wissel tans tussen sowat R58 000 tot R72 000 per hektaar. “Die TLU SA beplan ’n skakelkantoor om nuwe toetreders in die land ook by te staan. Ons hoop om eerdaags ’n memorandum van verstandhouding met die Bulgaarse regering te onderteken om verdere moontlikhede vir uitbreiding na die land te ontgin,” het Van Zyl gesê.
Inligtingstoere onderneem
Die TLU SA is van plan om twee inligtingstoere na Georgië en Bulgarye te onderneem. Die inligtingstoer na Georgië duur vanaf 25 Mei tot 3 Junie 2017 en die Bulgaarse inligtingstoer vanaf 4 tot 11 Junie 2017.
Vliegtuigkaartjies vir die Georgiëtoer kos R8 522 en ’n administratiewe fooi van R1 000 word gehef. Van Zyl het aanbeveel dat ongeveer US$1 700 vir kostes saamgeneem moet word. Die Bulgaarse inligtingstoer gaan R8 063 vir ’n vliegtuigkaartjie kos met R1 000 administratiewe fooi en ongeveer €700 vir die week se uitgawes.
Die TLU SA bied ook ’n spesiale prys aan diegene wat beide toere wil meemaak teen R11 866 vir die vliegtuigkaartjies.