
Die voormalige kommunistiese land Bulgarye kan in die toekoms geleenthede vir uitbreiding aan Suid-Afrikaanse boere bied.
'n Afvaardiging van die TLU SA het dié land in Junie besoek en volgens mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, is daar baie geleenthede daar wat ontsluit kan word.
Hy het by die TLU SA se jaarkongres gesê buitelanders kan wel nie grond daar koop nie, maar kortpaaie word ondersoek om plaasaankopers vinnig dubbele burgerskap te kan gee.
TLU SA en Bulgaarse regering gesels
'n Memorandum van verstandhouding word nou tussen die TLU SA en die Bulgaarse regering opgestel.
Van Zyl sê hy het tydens die besoek gesien watter groot rol die Europese Unie se landbousubsidies speel. Dit benadeel egter ook produktiwiteit en Van Zyl sê juis om dié rede is daar belangstelling om Suid-Afrikaanse boere te lok.
Die TLU SA se beleid is steeds dat boere in Suid-Afrika is om hier te bly en hul plase optimaal moet benut, maar Van Zyl sê die organisasie moedig boere aan om hulself te verskans deur uitbreidingsgeleenthede in die buiteland te benut.
(Lees ook: SA boere koop plase in Bulgarye)
Rusland maak ook kontak
Rusland het ook onlangs met die TLU SA kontak gemaak en Van Zyl sê die geleenthede word ondersoek. Die TLU SA is verder reeds 'n paar jaar lank betrokke by geleenthede in Georgië. Tans is die regering daar besig met 'n oudit oor grondbesit en kan buitelanders nie primêre landbougrond koop nie.
Volgens Van Zyl kan grond vir voedselverwerking wel gekoop word en is daar ander goeie beleggingsgeleenthede buite die landbou.
* Die TLU SA organiseer 'n besoek aan Bulgarye van 20 tot 30 Oktober. Kontak Bennie van Zyl vir meer besonderhede:
Tel: (012) 804-8031, Faks (012) 804-2014, E-pos: hb@tlu.co.za