
Suid-Afrika is steeds ’n netto invoerder van vleis en dit sal nie in die toekoms verander nie, sê mnr. Nick Serfontein, voorsitter van die Sernick-groep in die Vrystaatse distrik Edenville.
Hy was Maandagoggend die eerste gas op die Megaboere-gesprekreeks op die Stellenbosse Woordfees.
Die Sernick-groep voer maandeliks sowat 300 ton vleis na China en die Midde-Ooste uit, maar Serfontein voorsien nie dat die res van die bedryf in sy spore gaan volg nie. Hy meen die land beskik oor te min grond, water en beeste om ’n netto uitvoerder van rooivleis te word.
“Ons grond en water raak ál minder as gevolg van verstedeliking en mynbou. Ons kan nie ’n groot uitvoerder van vleis word nie; ons moet oor tien jaar 30% meer produseer vir die binnelandse mark.”
Boere wat wil uitvoer
Boonop kniehalter burokratiese rompslomp ook boere wat graag die uitvoermark wil betree.
“Afgesien van die probleme, het ons ook met ongelooflike red tape te doen. Daar is ’n pak vorms wat jy moet invul as jy wil uitvoer. Ons gaan juis volgende week daaroor praat by die rooivleis-vereniging.”
Serfontein sê uitvoergeleenthede sal wel opduik as die rand teenoor die dollar verswak. “Die ouens wat gerat is daarvoor gaan die vrugte pluk, maar ek dink nie ons gaan ’n groot uitvoerder word nie, want ons het nie genoeg grond nie. Tensy ons op al die wildsplase weer gaan begin bees boer.”
In 2015 is meer rooivleis in Suid-Afrika geproduseer as waarvoor ’n behoefte was. “Dit was die eerste keer in 20 jaar en die rede daarvoor was die droogte, want meer as drie miljoen beeste is geslag.”
Waardeketting absorbeer prysskommelinge
Volgens Serfontein het dit ’n rimpeleffek op die prys.
“Die beesvleisprys het die afgelope ses weke met 20% gestyg van R38 tot R46/kg. Dit wys jou net die skommeling. In ons waardeketting is die skommelinge pragtig, want ons kan dit absorbeer en benut,” het Serfontein gesê. Die Sernick-groep bestaan uit sewe besighede – ’n Bonsmara-stoetery, ’n voerkraal, abattoir en ontbeningsaanleg, ’n Fase C-bultoetsstasie, ’n groot- en kleinhandelsafdeling, ’n voerfabriek en ’n uitvoerafdeling. Die groep besit ook slaghuise en restaurante.
“As ek vandag terugkyk was dit een van die belangrikste besluite wat ek nog geneem het om die hele waardeketting te ontwikkel.”
Klein begin
Prof. Mohammad Karaan, dekaan van die fakulteit landbouwetenskappe aan die Universiteit van Stellenbosch, sê Serfontein het in 1983 op 250 ha geboer. Vandag strek die boerdery oor 5000 ha. Tien jaar gelede was sy omset sowat R170 miljoen. Tans is dit meer as R1 miljard.
Serfontein is op die Liebenbergstroom in Edenville gebore. Hy was een van agt leerders in matriek, en sê hulle het tot in matriek kaalvoet skoolgegaan.
“Elke mens moet ’n bietjie geluk in die lewe hê en my geluk was dat ek arm grootgeword het. My ouers het gesê daar is nie ’n toekoms in die landbou nie. Ek het op kort kennisgewing gaan ingenieurswese studeer en my tweede bietjie geluk was dat ek by ’n goeie raadgewende ingenieurspraktyk in Mafikeng beland het.”
Kort daarna het Serfontein 30 Bonsmara-verse en 250 ha grond gekoop. “Alles wat ek by die ingenieurspraktyk verdien het, het ek teruggeploeg in die boerdery. Ek het nie spandeer op huise en karre nie, maar meer grond en beeste gekoop. In die 1990’s het ek besef ek moet by die verbruiker kom, want tradisionele boerdery is maar marginaal. Ek het die hele waardeketting begin ontwikkel,” vertel hy.