
“Ons het 'n onontbeerlike rol om die res van die vasteland te voed,” het dr. Roelof Botha, ekonoom, by 'n geleentheid van Standard Bank-Agribesigheid in Centurion gesê.
Volgens Botha, wat betrokke is by onder meer die GOPA-navorsingsgroep en PricewaterhouseCoopers, is die landbou se bydrae tot die ekonomie verder veel groter as die sekondêre en verwante bedrywe in ag geneem word, en het die sektor ook 'n belangrike rol in die land se handelsbalans.
Sedert 2013 het die primêre landbou se handelsbalans 'n surplus van R91 miljard getoon en sekondêre landbou s'n 'n surplus van R39 miljard.
Sektor doen baie vir ontwikkeling van werkers
Verder doen die sektor baie vir maatskaplike belegging, deur plaaswerkerontwikkeling, onderwysprogramme, persoonlike opheffingsprogramme, beurse en opleiding, gesondheidsorg, rekreasiegeriewe, behuising, en basiese infrastruktuur.
Botha, 'n vorige wenner van Sake se Ekonoom van die Jaar-wedstryd, is met 'n voorspelling van ekonomiese groei van tot 2,5% vir vanjaar een van die optimistiese ekonome.
Hy is ook optimisties dat die rand verder kan versterk en die rentekoers vanjaar kan daal. Hy grond sy optimisme oor goeie vooruitsigte vir Suid-Afrika op onder meer die feit dat reële kleinhandelverkope die afgelope paar jaar ondanks trae ekonomiese groei gereeld rekordhoogtes bereik het, werkskepping steeds bly vorder het, en toeristegetalle verlede jaar weer gestyg het.
“Dit gaan 'n baie beter jaar wees as verlede jaar. As jy nie betyds in bedryfskapitaal belê nie, gaan jy markaandeel verloor,” het hy gesê.