
’n Wetenskapprojek, wat behels dat heuningbye opgelei kan word om renosterstropery hok te slaan, is in Grahamstad aangewys as die streekwenner in Eskom se kompetisie vir die Jong Wetenskaplikes.
Dié idée word beskryf as ’n moontlike oplossing vir Suid-Afrika se probleme met renosterstroping.
Louise Poole en Jame-Lee Stone, graad 9-leerders aan Kingswood-kollege, was die meesterbreine agter die projek. Luidens ’n berig op Nuus24.com het die meisies elk met ’n jaarlange studiebeurs aan die Universiteit van Rhodes weggestap.
Koedoehoring
Die twee leerders het ’n handvol bye opgelei om koedoe-horings op te spoor. Koedoe-horing is gebruik omdat die leerders nie renosterhoring in die hande kon kry nie. Stone vertel dat die bye geleer is om ’n renoster se reuk met suikerwater te verbind.
‘‘Bye het ’n kragtige reuksintuig . . . hulle kan ’n korrel sout in ’n swembad van Olimpiese grootte opspoor,’’ aldus Stone. Sy meen dit is maklik en goedkoop om bye na grensposte te vervoer waar hulle gebruik kan word om renosterhorings op te spoor.
Die projek sal in Oktober by die Nasionale Wetenskap-Ekspo in Pretoria ten toon gestel word.
Bron: Nuus24.com