
Dr. Dennis van Engelsdorp, ’n internasionale kenner van CCD, het op die Beecon-byeenkoms gesê daar word deesdae aanvaar dat CCD, net soos hartsiektes by mense, verskillende oorsake kan hê.
Hy meen dat die bye weens hul sosiale aard ’n altruïstiese selfmoordpoging uitvoer om te keer dat hulle die res van die kolonie besmet wanneer hulle besef hulle het een of ander siekte. Hy sê in Suid-Afrika kom daar ook soms onverklaarbare verliese onder bye voor.
Dit kan CCD wees, hoewel hy nie so seker daarvan is nie. Die toestand is begin 2007 in Pennsilvanië in Amerika aangemeld, hoewel daar selfs al in literatuurstudies van 1850 verskynsels aangemeld is wat soos CCD op ’n kleiner skaal klink.
Volgens Van Engelsdorp is daar in die navorsing na oorsake onder meer gekyk na siektes, plaagdoders en omgewingstres. Dit wil egter voorkom of CCD-bye verskillende siektes gehad het wat hul weerstand afbreek.
“Hulle besef dit en vlieg weg om die res van die kolonie te red.” Volgens hom raak bye al hoe meer kwesbaar omdat hulle na verskeie plekke vervoer word om gewasse te bestuif.
Die helfte van Amerika se kolonies word jaarliks in die lente na Kalifornië vervoer om amandelbome te bestuif. Binne die volgende paar jaar sal daar in die hele Amerika nie meer genoeg bye vir die amandeloes wees nie.
Boere het tien jaar gelede sowat R360 per korf daarvoor ontvang. Deesdae is dit meer as R1 300 per korf.