
Die Campolina-perderas is Brasilië se trots met van die perde wat pryse van tot R$1 miljoen (Brasiliaanse reaal) kan haal.
Volgens Campolina ABCCC, ’n plaaslike organisasie wat die telers en eienaars van dié perderas verteenwoordig, word die perde al sedert 1870 in Brasilië geteel.
Hulle roem daarop dat die perde intelligent, liefdevol en elegant is. Detalhe, die wit en swart perd op die foto, is spesifiek tydens die Agrishow 2011 in Ribeirao Preto aan landbou.com gewys.
Hy vermaak menige besoeker met sy unieke swart en wit merke. Hy is 11 jaar oud, en ’n moontlike koper kan verwag om tot R$150 000 vir Detalhe te betaal. Die perd is egter in die fleur van sy lewe en sy eienaars gaan na verwagting met hom teel.
Ander lande
Volgens die organisasie word die perde nie gereeld na ander lande uitgevoer nie, hoewel hulle soms Duitsland se grense binnegaan. Vroeër jare het Duitsland glo gereeld van die perde gekoop.
Dié pragtige perderas word tans in tien state van Brasilië geteel. ’n Jaarlikse Campolina-perdeskou word in September in Belo Horizonte aangebied waar dié diere meeding om as die beste bekend te staan.
5 Mei 2011