Van der Merwe is ’n boer van Van Wyksvlei wat R80 miljoen aan die Land Bank skuld.
Regter Mpho Mamosebo het die bevinding verlede week gemaak in haar geskrewe redes waarom sy Van der Merwe se aansoek om verlof tot appèl teen haar vroeëre uitspraak verwerp het in sy ingewikkelde likwidasiegeding met die Land Bank.
In die betrokke uitspraak is die bedes in Van der Merwe se hoofaansoek verwerp dat ’n artikel in die Maatskappyewet (Wet 71 van 2008) ongrondwetlik of arbitrêr verklaar word omdat individue en trusts uitgesluit is van sakeredding, anders as maatskappye en beslote korporasies. Die aansoek dat sy sakereddingsplan eerder aanvaar word as ’n likwidasie- en sekwestrasieproses, is ook afgewys.