In die jongste uitspraak teen hom in sy ingewikkelde likwidasiegeding met die Land Bank het regter Mpho Mamosebo op 13 Desember beslis dat die likwidasie- en sekwestrasieproses mag voortgaan soos sy op 11 Oktober beslis het. Sy het nie doekies omgedraai oor Van der Merwe en sy regspan se optrede nie nadat hulle ondanks dagvaardings nie die sitting in November bygewoon het nie waarin afgetrede regter Eberhard Bertelsmann sy entiteite se sakebedrywighede ingevolge ’n vorige uitspraak moet ondersoek. Hulle werk ook nie met die likwidateurs saam nie.
Volgens haar is die soort optrede strafbaar en ontneem dit die likwidateurs van hul wetlike mandaat om die entiteite se sakebedrywighede dringend af te handel.
Sy het die regspan as “dwarstrekkerig” (obstruktief) beskryf. “Hoe minder ek oor hul gedrag sê, hoe beter,” het die regter gevind.