
Die private ekwiteitsonderneming Capitalworks se aanbod om Sovereign Foods te koop, het nie Country Bird Holdings (CBH) se belangstelling in laasgenoemde geblus nie. CBH, wat 34,1% van die genoteerde Sovereign besit, het in Julie verlede jaar 'n aanbod van R9/per aandeel gemaak om die maatskappy te koop.
Die twee maatskappye sal saam 'n baie sterk, derde grootste hoenderprodusent in die land wees. Sovereign het CBH se aanbod egter op verskeie maniere gefnuik.
Sovereign het op 10 Augustus bekend gemaak dat hy Capitalworks se aanbod van R12/aandeel ondersteun. Die maatskappy sê in 'n verklaring 'n sleutelvoorwaarde van die aanbod is dat Capitalworks meer as 50% van Sovereign se uitgereikte aandele moet verkry, en dat Capitalworks sê hy het die steun van 50,8% van aandeelhouers.
Tydsberekening
Mnr. Marthinus Stander, uitvoerende hoof van CBH, sê hy bevraagteken die tydsberekening van Capitalworks se aanbod, kort voor September wanneer CBH, volgens JSE-reëls, weer 'n aanbod sou kon maak.
Omdat CBH tans die grootste aandeelhouer is, vind Stander dit ook vreemd dat nie Capitalworks óf Sovereign met CBH kontak het nie. Capitalworks se skema waardeur hy R12/aandeel aanbied, moet deur 75% van aandeelhouers gesteun word.
Die maatskappy se alternatiewe aanbod behels dat Sovereign gedenoteer word, gegewe die genoegsame 50,8% van aandeelhouersteun hiervoor.
Stander sê sou die alternatiewe aanbod 'n werklikheid word, sal Capitalworks potensieel 65% van die aandele van die ongenoteerde maatskappy besit en CBH naastenby 35%.
Samewerking
Die twee maatskappye sal dan met mekaar moet kan saamwerk, selfs al was daar tot nou geen kontak tussen hulle nie.
“Ons vind dit vreemd dat Sovereign se raad sy onomwonde steun aan Capitalworks se aanbod verleen het, terwyl dié entiteit nie ervaring in die pluimveebedryf het nie en daartoe wil toetree ten tye van groot uitdagings, soos die uitbreek van hoogs aansteeklike voëlgriep.”
Stander sê CBH wag vir 'n omsendbrief wat op 7 September uitgestuur moet word, waarin daar meer besonderhede oor die aanbod sal wees.
“In dié stadium het ons nog te min inligting om te kan besluit of ons 'n teenaanbod sou wou maak.”