
Die hoë vlak samesprekings rondom veediefstal sal hopelik tasbare resultate oplewer, sê dr. Pieter Prinsloo, voorsitter van die Oos-Kaapse RPO-tak.
Hy sê die gemoedere het hoog geloop op die vergadering wat deur die Oos-Kaapse forum vir die voorkoming van veediefstal gereël is en deur mnr. Bheki Cele, adjunkminister vir Landbou, me. Maggie Sotyu, adjunkminister van Polisie en mnr. Mlibo Qoboshiyane, die LUR vir landbou in die Oos-Kaap, bygewoon is.
“Dit was veral die gebrek aan voertuie en die instandhouding daarvan wanneer veediefstalsake ondersoek moet word, wat mense warm onder die kraag gehad het. Ook waar boere wie se vee in die kommunale dele gesteel word, se verklarings nie aan hulle teruggelees word nie en sake dan in die howe uitgegooi word omdat dit onvolledig is.
“Daar is ook gevra dat die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling betrek word om mense in die landelike dele meer bewus te maak van hul regte wanneer verklarings afgelê word. Die tradisionele leiers moet ook in groter mate betrokke raak by sake wat hulle onderdane raak.
Volgens ’n verslag wat deur Nafu se verteenwoordiger, mnr. Bandile Gqweta, aan die vergadering voorgelê is, is 92% swart huishoudings geraak in die 178 000 veediefstalsake wat in 2011 aangemeld was. In die geval van wit huishoudings was dit 7% en 1% vir Indiër en kleurlinghuishouding.
Prinsloo sê Cele het onderneem om die probleme wat met veediefstal tussen Suid-Afrika en Lesotho ondervind word, op nasionale vlak aan te spreek. Qoboshiyane het gesê na wat hy op die vergadering gehoor het, mense tereg ongelukkig oor die huidige stand van sake kan voel. “Die Regering het ’n verantwoordelikheid om sy burgers teen misdaad te beskerm. Dit is duidelik dat baie van die probleme te wyte is aan die verval van die maatskaplike orde.”